Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Geslagsgeweld

Godfrey Kleinhans

’n Verskynsel wat besig is om in frekwensie toe te neem, en handuit te ruk, is geslagsgeweld. 

Daar gaan nie ’n dag verby dat die media nie geslagsgeweld, veral op vroue en minderjarige meisies, rapporteer nie. Hoog op die lys is die moord op nege vroue in die Ekurhuleni- munisipale omgewing in ons buurland. Die polisie sit met hul hande in die hare; reeks- en “copy-cat”-moord is in hierdie stadium nie in- of uitgesluit nie. Dit lyk ook of vroue in die negende geval betrokke kan wees. 

Natuurlik wil ons weet wat dryf mense (veral mans) om vroue so wreed te mishandel en te vermoor. Sommige skryf dit toe aan ons patriargale samelewings. Baie van ons word groot waar die patriarg nie meer die wyse ou Bybelse figuur is nie, maar verander het in ’n ongenaakbare oorheerser. Ander sê weer dit is afwykende sielkundige gedragspatrone, met die klem op seksuele afwykings. Dit is waar dat weinig van hierdie moorde in die afwesigheid van verkragting plaasvind. 

Maar, hoe lyk die situasie in ons skole? 

Statistieke oor hierdie tipe geweld word noukeurig in die meeste lande bygehou. In 2024 in ons buurland, Suid-Afrika, is 1 156 009 leerlinge aan geweld blootgestel; baie van die slagoffers was so jonk as vyf jaar. Veertien persent daarvan is deur onderwysers (teenoor leerlinge) en 8% deur medeleerlinge gepleeg. Skoolmeisies is in die meeste gevalle deur onderwysers geteiken; 58% van die geweld was fisiek en gewelddadig, terwyl 63% verbaal was. In 2024-’25 is 9 857 gevalle van seksuele mishandeling aangeteken, terwyl slegs 2 826 gevalle by die polisie aanhangig gemaak is. Die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderwysers het 826 gevalle vir die periode 2021 tot 2025 hanteer. In Namibië is geslagsgeweld ook vir ’n lang tyd al onder die vergrootglas. Vir die periode 2020 tot 2023 is ongeveer 22 185 gevalle aangemeld waarvan 81% geweld op vroue was. Spesifieke skoolgetalle is nie beskikbaar nie, maar ons kan aanvaar ’n groot porsie daarvan was skoolkinders. Dan moet mens onthou hierdie statistieke sluit ook aanvalle op seuns in. 

Die vraag is watter voorkomingsmaatreëls is in plek? Naas wetgewing en voorskrifte in Namibië, word die verskynsel ook gedefinieer om begrip en hantering daarvan te vergemaklik. 

Eerstens, geweld teenoor meisies deur ander leerlinge. Hierdie definisie vra na die omvang en doeltreffendheid van beskermingsmeganismes deur die skool. 

Tweedens, geweld en seksuele geweld teenoor meisies deur volwassenes. Hierdie definisie vra veral na beskermingsmeganismes, spesifiek teen persone in wie se sorg die meisies geplaas word. Die laaste kategorie is geweld teen vroue-onderwysers wie se waardigheid en veiligheid deur onderwyswetgewing beskerm word. Dis nie meer vreemd dat hierdie praktisyns deur leerlinge aangeval en deur hul seniors seksueel mishandel word nie. 

Het die ontwikkeling van die onderwysreg pas gehou met die toename in geweldsmisdaad op skoolterreine? In menige hofuitsprake is die verbod op geweld op leerlinge, insluitend lyfstraf, beklemtoon. 

In Suid-Afrika word leerling-op-leerling-geweld nie meer as net ’n interne dissiplinêre aangeleentheid beskou nie. Sulke wandade kan die oortreder duur te staan kom; hulle kan in die howe en in die tronk beland. 

’n Belangrike wending is geneem deur die Cliffe Dekker Hofmeyr-regsoorsig. Waar daar bewys kan word dat toesig by skole waar sulke dade gepleeg word, gebrekkig was, kan die skoolhoof, beheerliggaam en provinsiale onderwysdepartement aanspreeklik gehou word. In baie lande word swanger skoolmeisies op die skoolbanke toegelaat omdat hul toestand baie keer te danke aan uitbuiting deur onderwysers en ander leerlinge is. 

In Davis vs Monroe beslis die hof skoolrade kan aanspreeklik gehou word as dit bewys kan word dat die skool geweet het van leerling-op-leerlinge-geweld en niks daaromtrent gedoen het nie. 

In die Jane Doe-appèlsaak is die skoolraad se appèl van die hand gewys omdat die respons van die skool gebrekkig was. ’n Internasionale hof gaan verder; dit bevestig die beginsel van versterkte omsigtigheid en adviseer lande om hul wetgewing so aan te pas dat skoolverwante geweld nie ongestraf gaan nie. Dit beteken die oortreder kan lank na die pleeg van die daad, nog gestraf word. 

Ons het al die wetgewing, beveiligingsmeganismes en hofuitsprake en steeds bly geslagsgeweld soos ’n doring in die vlees van ons samelewing. 

Dit bly vreemd dat geweld teen leerlinge gepleeg word juis op plekke waar hulle veilig en geborge moet voel. Hoe kan ons dit beperk of stopsit? In hierdie stadium lyk dit of ’n beleid van geen toleransie die oplossing blyk te wees. Maar, geen toleransie beteken niks sonder absolute waaksaamheid nie. Onderwysers moet uiters waaksaam wees op die perseel, in die klaskamers en ablusiegeriewe en op die sportvelde. Gevalle wat voorkom moet met die grootste erns en spoed gerapporteer word. 

Nou, wat van die slagoffers? Hulle het bystand en ondersteuning nodig. En, terwyl hulle met hul seer worstel, beleef Namibië ’n geweldige tekort aan die persone, maatskaplike werkers, wat agterna hierdie ondersteuning moet lewer. En terwyl hulle seer voortduur, kibbel ons regeringsleiers oor gebrekkige begrotings. 

– [email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer