Onderwys – Formele erkenning van die onderwysreg
Ek het in hierdie kolom al heelwat kommentaar gelewer oor gevalle wat binne die omvang van die onderwysreg val.
Baie van die gevalle het nie net kommentaar, maar ook kritiek en veroordeling uitgelok. ’n Paar dinge het my egter oor die jare opgeval! Daar was kere wat die besluite van die ministerie (hoof- en streekkantore) nie streng in ooreenkoms met bestaande reg was nie.
Soms het besluite van skoolhoofde my oortuig dat dit sonder deeglike kennis en begrip van die toepaslike bepalings van die Grondwet en onderwyswet geneem is. Die onderwysreg kry duidelik nie die aandag wat dit verdien nie. Die onderwysreg is ’n redelike jong dissipline. Soos samelewings ontwikkel, so het die verskillende beroepe die behoefte gevoel aan werksomgewings wat met etiese norme en gedragskodes beraam is.
So het afsonderlike regskodes vir kerk, die bankwese, ingenieurswese, medisyne, maatskaplike werkers en verskillende dissiplines van die handel ontwikkel. In die laat 70’s of vroeë 80’s het daar ’n behoefte ontstaan om ook ’n stel gedragskodes vir onderwysers saam te stel.
So ’n beweging het by die Universiteit van Suid-Afrika onder die leiding van professore Stone (dekaan van die opvoedkunde-fakulteit) en JG van Wyk plaasgevind.
In 1982 het die boek Onderwysreg vir die Onderwyser van Van Wyk die lig gesien. Hierdie werk is, soos die titel aandui, spesifiek vir die onderwyser geskryf.
By Unisa het die onderwysreg een van die onderwysbestuur-dissiplines onder die sambreel van die destydse BEd-graadkursus geword. Dié kursus was as ’n honneurskursus vir studente beskou wat reeds oor ’n B-graad en ’n universiteits-onderwysdiploma (SOD/HOD) beskik het.
Aldus Van Wyk was daar destyds substantiewe redes waarom universiteite tot hierdie stap moes oorgaan. Eerstens, die professionaliteit van die onderwysberoep noodsaak ’n stel regskodes.
In Van Wyk se boek sê Garber en Micken: “Teachers like members of other professions, should be aware of the principles of law that relate to their profession.”
Tweedens, onderwysers en onderwysadministrateurs beland in situasies wat dit belangrik maak dat hulle hul vergewis van die regsreëls wat daarmee verband hou. Derdens, ek het al genoem dat die onderwysreg die raamwerk skep waarbinne verpligtinge en vryhede uitgeoefen word. Dit geld onder meer vir die indiensneming van onderwysers, toelating van leerlinge, toepassing van dissiplinereëls, hantering van skoolfondse en dies meer.
Vierdens, die opvoedingsakt gebeur in ’n geordende omgewing met verskillende rolspelers met verskillende regte en verpligtinge. Die mate waarin rolspelers erkenning verleen aan hierdie regte en verpligtinge, is ook bepalend vir die sukses van onderlinge verhoudings. Hoe beter dié verhoudings tussen die lede van die sektor, hoe groter kans het die opvoedingsakt op sukses.
Vyfdens, daar is geen waarborg dat die balans tussen regte en verpligtinge nie versteur kan of sal word nie. Onderwysers eerbiedig nie altyd hul werksooreenkomste nie en leerlinge kom nie altyd die skoolreëls na nie. Onderwysers wat leerlinge met ’n rottang slaan en leerlinge wat minagtend teenoor onderwysers is, versteur hierdie balans.
Vergelding is ’n erkende regsbeginsel. Onderwysers en leerlinge moet dus deeglik ingelig wees oor die regsproses wat volg op die skending van die ordereëls van die onderwysreg.
In die sesde plek beklee die onderwyser ’n gesagsposisie in die skool met verskeie juridiese implikasies. Onderwysers werk met leerlinge in gimnasiums, laboratoria, op sportvelde en in lokale met gevaarlike masjinerie soos in houtwerkkamers. Hierdie omgewings hou die moontlikhede van beserings in en dat onderwysers vir nalatigheid in ’n hof aangespreek kan word. Nalatigheid hou nie net implikasies vir die onderwyser in nie, maar ook vir die skool en onderwys ministerie.
Die onderwyssektor is, soos enige ander beroepsektor, vol slaggate. Dié werksomgewing, waar ook al, verg deeglike toesig, deeglike voorligting, volledige instruksies, voorsorgmaatreëls en gereelde waarskuwings.
Die onderwyser MOET kennis van die juridiese implikasies van sy beroep dra. En, dit vra na formele en informele opleiding.
(Met vrug gebruik gemaak van die werk van Van Wyk hierbo genoem) – [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie