Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Elke jaar begin met sy eie probleme

Onderwysrubriek
Onderwysrubriek
Sanet Pearson

Elke huis het sy kruis, so het elke nuwe jaar sy eie uitdagings. Sommige van hierdie uitdagings is nuut, maar ander weer voortslepend; uitdagings waarvoor die onderwysministerie eenvoudig net nie antwoorde kan vind nie. 

En dan, voortslepende groot en moeilike uitdagings het die neiging om kleintjies te baar. Die vind van oplossings word soms versper deur gebrekkige bronne terwyl ander bemoeilik word deur ’n gebrek aan inisiatief, kundigheid, vindingrykheid en gedrewenheid. 

Ek dink dat die parlementêre komitee wat kla oor seniors wat hul juniors na geskeduleerde vergaderings stuur, juis hierop sinspeel. Hierdie is belangrike vergaderings waar die parlement onder andere antwoorde soek oor nasionale en streekprojekte en goedgekeurde uitgawes. 

Een senior amptenaar van Otjozondjupa wat na so ’n vergadering genooi is, het kennis gegee dat sy teenwoordigheid in die ||Kharasstreek nodig was. Die dagblad meld dan ook dat dit wil voorkom asof die monitêre voordeel verbonde aan amptelike reise belangriker geword het as amptelike pligte, soos die bywoon van parlementêre komitee-vergaderings. Ek het in hierdie einste kolom etlike maande gelede melding gemaak van ’n geval (in onderwys) waarvan ek anoniem verneem het; van my ywerige gekla het egter dadels van gekom en die storie het maar aangegaan. 

Terug na die uitdagings! Verlede jaar het geëindig met ’n polimiek oor privaat skole. Privaat skole kom in verskillende tipes in Namibië voor en kan onderskei word op grond van stigting en befondsing. Dit kom my voor asof die herrie oor privaat skole in Walvisbaai ontketen is. Ek is nog nie vertroud met die feite nie en sal op ’n ander tydstip meer aandag hieraan wil gee. 

En dan tweedens, die uitdaging wat wel bekend aan ons is, is die gebrek on onderrigruimtes (klaskamers). Ons weet dat die gebrek aan klaskamers lei tot oorvol klasse en skep allerlei ander uitdagings, vir onderwysers. Kinders word op waglyste geplaas en kan in sekere gevalle selfs verplig word om ’n jaar “uit te sit”. 

Die rooi vlae het hierdie keer ook gewapper in Walvisbaai waar 373 graad 1’s op ’n waglys geplaas is. Ek is aangenaam verras met die voorstel dat daar moontlik van die pelotonstelsel gebruik gemaak gaan word. 

Ek het herhaaldelik pleidooie vir die pelotonstelsel (multiple-shift schooling) tydens die covid-pandemie gemaak om die verlies aan onderrigtyd te voorkom, maar dit het op dowe ore geval. Verder stel die ministerie nou die gebruik van tente voor indien die pelotonstelsel vir sommige skole nie aanneemlik is nie. 

Ek het ’n paar jaar gelede ’n resensie gedoen oor die tentskole wat deur nomadiese groepe in die Kunene gebruik is. Ek kan nie sê dat ek baie beïndruk was nie. Miskien moet die ministerie begin dink aan die vervaardiging van mobiele eenhede asook die huur van strukture by kerke en ander instansies. 

Dit lyk ook of die tekort aan onderrigruimtes moontlik ’n ander onheil baar. Daar word melding gemaak van moontlike omkopery om plekke vir kinders te verseker. Ek vertrou dat dit nie waar is nie en dat die minister se waarskuwing ernstig opgeneem word. 

Derdens, nou die ander dag het ’n skoolhoof, in ’n gesprek, die swak uitslae in graad 11 toegeskryf aan “outomatiese promosie”. Die oorplasingsbeleid is nog van krag en skole sal eenvoudig van strategieë, soos kompenserende onderrig, gebruik moet maak om leerders wat so “oorgeplaas” is, addisionele ondersteuning te gee.  Vierdens, ’n groot uitdaging vir Namibiese gemeenskappe is die groot aantal leerders wat weens swak eksamenuitslae nie toegang tot graad 12 kry nie. Hierdie onsuksesvolles verteenwoordig 64% van die 2025 finale eksamen-kandidate. Baie van hierdie onsuksesvolles sluit maar by die ander aan en word deel van die armoede poel. Dan wys Nanso daarop dat die toename in hoër vlak-kandidate nie noodwendig ’n verbetering in prestasies tot gevolg het nie. 

En, laastens lyk dit my of die graad 11-ding nog baie verwarring veroorsaak. Me. Tsumis-Garises het tydens ’n inligtingsessie genoem dat daar nie so iets soos graad 11 en 12 in Namibië is nie, dat dit nie op die sertifikaat verskyn nie. 

Maar, wat ken ons op grondvlak? My professor het my geleer dat indien jy iets van onderwysbeleid wil weet, moet jy jou weg na ’n skool vind. En, by die skool word die senior sekondêre-leerders wel ingedeel in grade 11 en 12; en ook so genoem. 

So, me. Tsumis-Garises die werklike olifant in die vertrek is die verwarring. 

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-02-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer