No Image Caption

Onderwys – Die problematiek van vroeë skoolverlating

In hierdie rubriek het ek heelwat tyd aan die uitvalkoers (dropouts) en tienerswangerskappe bestee.

Die redes vir vroeë skoolverlating en tienerswangerskappe is van die redes wat nie net armoede inisieër nie, maar ook grootliks verantwoordelik is vir die onverbiddelike voortsetting daarvan. Armoede is soos ’n voortsnellende trein waarvan die brieksisteem ingegee het. Nou die ander dag het ’n onderwyser vir lewensvaardigheid (skills teacher) by een van die plaaslike hoërskole my meegedeel dat 20 dogters by hulle skool sedert die aanvang van die jaar swanger geraak het. Vandag wil ek aansny by die bekommernisse van die direkteur van onderwys van Kavango-Wes, mnr. Musore, oor hierdie verskynsel soos dit gerapporteer is in die New Era van 31 Oktober 2025.

Volgens hom het 809 leerders in 2024 die skool vroeg verlaat terwyl 273 dogters in daardie jaar swanger geraak het. Vergelyk ’n mens dit met die 2022-data, dan was daar ’n toename van 16,93% in vroeë skoolverlating terwyl die swangerskappe ’n afname van 13,6% toon. Net iets oor die geldigheid van die swangerskapdata soos dit in die statistiektabelle van die ministerie gerapporteer word.

Ek verkwalik nie die ministerie daarvoor nie; dit is die inligting soos tot die beskikking van die skole gestel word. In ’n vorige rubriek het ek, met verwysing na Ohangwena, gewys op die teenstrydigheid tussen die data van onderwys en dit waaroor die ministerie van gesondheid en maatskaplike welsyn beskik. Ek is daarvan oortuig dat laasgenoemde se data nader aan die waarheid is.

Maar eers terug na mnr. Musore. Ek is dit eens met hom, soos hierbo ook genoem, dat armoede en ekonomiese druk twee van die grootste sondaars vir vroeë skoolverlating is. Baie van die swangerskappe is die gevolg van transaksionele ooreenkomste tussen skooldogters en werkende jeug; laasgenoemde kan voorsien in die behoeftes van die skooldogter. Baie swangerskappe is die gevolg van druk wat deur ouer mans op jong dogters geplaas word. Verder verwys hy ook na vertragings in die skoolvoedingsprogram as motivering vir vroeë skoolverlating. Tydens baie van my informele en lukrake (randomly) onderhoude met straatkinders in Keetmanshoop, het ek agtergekom dat die meeste kinders deur honger uit die skool gedryf word. Van hulle verkoop groente en ander ware vir handelaars op straat. Die onderwys- en arbeidswetgewing word oortree, “but who cares?”; wanneer honger druk, is sulke dinge nietighede.

Wat baie belangrik is, en waarvan ander direkteure kennis kan neem, is die strategieë wat Kavango-Wes aanwend om die probleme aan te spreek. Onderwysers word reeds in die streek opgelei in terme van die ministerie se neergelegde beleide. Verder is die streek in vennootskap met IntraHealth Namibia se REACH 11 Project 2022-’28. Hierdie is ’n skoolgebaseerde bewusmakingsprogram wat deur Youth 2 Youth Namibia ondersteun word.

Verder is ’n Regional School Health Task Force gestig met die oog op kapasiteitsbou, koördinasie van voorkomende aktiwiteite en monitering deur skoolbesoeke. Maar, die belangrikste vir my, is die besef van die streek dat vroeë skoolverlating en tienerswangerskappe vra om ’n multisektorale benadering. Dit vereis ’n vennootskap tussen ouers, gemeenskapsleiers, regeringsinstansies, nieregeringsliggame (NGO’s) en kerkgenootskappe. Maar, vir sukses is kollektiewe aktiwiteite en strategieë met ’n gewilligheid om te dien, nodig; samewerking is dus ’n absolute vereiste.

Ons het nie ’n keuse om mnr. Musore se standpunte te ignoreer nie. Ons kan ook nie wag dat iets moet gebeur nie; 2030 is om die draai.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer