Onderwys – Die onderwysreg
Sedert ek met hierdie kolom ’n paar jaar gelede begin het, het ek meestal op onderwysbestuur, meer spesifiek skoolbestuur, gefokus.
In die lig van my laaste betrekking in die onderwys, het ek ook baie tyd en ruimte aan onderwysbeplanning bestee. In vele rubrieke is leerling- en onderwyseroortredings behandel wat my noodwendig in die area van die onderwysreg laat beland het. In baie gevalle kon ek dit nie verhelp om my misnoeë met die onbeholpenheid waarmee sommige gevalle gehanteer is, “luidrugtig” te kenne te gee nie.
In 2020 het ek ’n skrywe in hierdie einste koerant geplaas waarin ek sommige van die oortredings deur onderwysers en leerlinge gelys het. Die lys het onder meer leerlinge en onderwysers wat op die skoolperseel met messe gedreig word, onderwysers wat leerlinge aangerand het, ’n seun wat deur ’n veiligheidswag op die skoolperseel geskiet is, seuns in aanhouding weens beweerde aanranding en moord, leerlinge in besit en gebruik van dwelms, sluiting van skoolhekke en ontwrigting van skoolaktiwiteite deur gemeenskapslede, ingesluit.
In baie kringe was die kritiek fel en my bekommernis oor ons kinders was nie minder nie. Miskien was my aanhef uit Jeremia 31:15, “’n Stem is in Rama gehoor, geklaag, geween en groot gerou. Ragel ween oor haar kinders, want hulle is nie meer daar nie”, ’n bietjie oordrewe, maar tog in sekere opsigte geregverdig.
Ek het die brief afgesluit met die hoop wat teenoor wanhoop staan soos uitgedruk in die laaste strofe van “Where have all the children gone?” van Joseph Kerschbaum.
“We hope they’re hiding
We hope they’re playing a game
But we know this is really happening
Where have all the children gone?”
Maar, my geloof in die onderwysstelsel en die wete dat die hoop nooit beskaam nie, het ek aan my rubriek “geklou”, ek het verkies om nie in sak en as te verval nie.
Ek was en is nog steeds oortuig dat hierdie rubriek ’n verskil kan maak. Sien, my fokus was nie net op dit wat verkeerd geloop het nie, maar ek het ook gedurig na oplossings gesoek.
Ek het indringend gevra na strategieë, stewig gegrond in bestuurs- en onderwysregbeginsels, om skeefgetrekte situasies weer in lyn te bring met dit wat goed en reg is. In die lig hiervan het ek besluit om volgende week te begin met ’n reeks oor die onderwysreg.
Ek vertrou dat hierdie reeks nie sal ontaard in ’n eenrigtingkommunikasie nie, maar dat lesers aktief hieraan sal deelneem. Lesers word dus genooi om deel te neem aan hierdie gesprek en om anekdotes en eie ervarings met ons te deel.
Die onderwysreg beraam die regsorde waarbinne inklusiewe kwaliteitsonderwys moet gebeur. Baie lesers het my al laat weet hoe hulle hierdie kolom geniet; ek wag op hul opinies oor die komende reeks.
(Hierdie reeks dra ek op aan professor JG van Wyk, outeur van die Onderwysreg vir die Onderwyser (1982) wat ’n entoesiasme vir die onderwysreg in my aangewakker het.)
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie