Onderwys – Die huidige status van die onderwysreg
Nog ’n vraag oor die onderwysreg, gaan oor die status wat dié dissipline by universiteite geniet.
Ek het veral gaan kers opsteek by die Universiteit van Namibië (Unam) en die Internasionale Universiteit van Bestuur (IUM), hier ter plaatse, en ’n paar buitelandse universiteite.
’n Geruime tyd gelede het ’n rubriekskrywer in die New Era die belangrikheid van die onderwysreg vir praktiserende onderwyser beklemtoon.
Die outeur wys veral op die druk wat die werkgewer, ouers, leerlinge en belanghebbendes in die onderwysgemeenskap op onderwysers uitoefen. Omdat daar altyd ’n balans tussen die vryhede en verantwoordelikhede van die onderwyser en ander belanghebbendes moet wees, is dit ewe belangrik dat die onderwyser ’n grondige kennis en begrip van die onderwysreg móét hê.
In die lig hiervan is dit nodig dat praktiserende onderwysers kennis neem van die instansies waar die dissipline as ’n losstaande vak aangebied word of by opleidingskursusse geïnkorporeer is. Daar is tans slegs drie universiteite waar onderwysreg as ’n volledige module as deel van ’n onderwyskursus aangebied word. Maar, kom ons begin eers aan’t huis.
By Unam word die onderwysreg slegs onder die vaandel van die doktorale program aangebied. Die voorgraadse en meestersprogramme maak nie voorsiening hiervoor nie.
IUM fokus slegs op die regsraamwerk van die land se onderwyssektor in hul nagraadse diploma in onderwys (PGDE). Die universiteit naaste aan ons, naamlik Sol Plaatjie in Kimberley, bied dit ook nie voorgraads aan nie. Die onderwysreg is wel deel van die gevorderde diploma in skoolleierskap by hierdie universiteit.
By die Universiteit van die Vrystaat word ’n module van die vak (elektief) deur die regsfakulteit aangebied. Soos in die vorige rubriek oor hierdie onderwerp vermeld, kom die ontwikkeling van die onderwysreg by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) al ’n goeie ruk aan. Hier word die vak as ’n volledige module van die spesialiteitskursus, BEd-onderwysbestuur, aangebied.
Soortgelyke aanvoorwerk is ook deur die Noordwes-Universiteit gedoen. By hierdie instansie word die onderwysreg as ’n losstaande spesialiseringsvak onder die vaandel van die opvoedkunde fakulteit onderrig.
By die Universiteit van Pretoria word die onderwysreg as ’n volledige module van die BEd (Hons.) aangebied. Die hele kursus dek onderwysbestuur, onderwysreg en beleid.
By die Universiteit van Fort Hare, in ons buurland, word die onderwysreg as ’n gespesialiseerde kursusmodule deur die regs- en opvoedkunde fakulteite aangebied. Die BEd- en nagraadse sertifikaat in onderwys is ontwerp om onderwysstudente, onder andere ’n deeglike begrip te gee van hul regsverpligtinge wanneer hulle eendag die beroep betree.
By die Universiteit van Zimbabwe word die onderwysbestuur slegs as ’n spesialiseringsmodule deur die regsfakulteit aangebied, terwyl dit by Harvard in die VSA gesamentlik deur die regs- en onderwysfakulteit aangebied word.
Wat is die implikasies hiervan? Eerstens, hierdie inligting bevestig net die vermoede dat baie onderwysers, en veral sommige van ons skoolhoofde en onderwysadministrateurs, se kennis en begrip oor die onderwysreg ontoereikend is. Die vak word nie aangebied aan voorgraadse studente nie; dit beteken dat toetreders tot die sektor swak toegerus is wat die regsaspekte van hul beroep betref. Die ministerie kan hierdie leemte met programme vir indiensopleiding vul. Skoolrade behoort ook deel van sodanige programme te wees.
Voornemende onderwysstudente, veral diegene wat in die onderwysreg belangstel, behoort ook kennis te neem van die universiteite waar die vak aangebied word. Dit sal baie goed wees as die vak in ons universiteite se voorgraadse programme geïnkorporeer kan word. Aanmoediging van die ministerie kan moontlik ons universiteite van die wenslikheid van so ’n stap oortuig. Deur beraadslaging, inspraak en ooreenkoms kan ons moontlik hierdie doel bereik. Op hierdie oomblik laat ons onderwysers sonder ’n grondige kennis en begrip van die onderwysreg op ons kinders los!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie