Onderwys – Die Grondwet, kultuur en skoolreëls
Ons leef in ’n kultureel diverse wêreld wat vereis dat skole sensitief moet wees vir onderwysers en leerlinge se kulture, lewenswyses en tradisies.
Skoolreëls moet dus opgestel word met inagneming van taal, geloof, musiek, waardes en sosiale gebruike. Daar mag geen onduidelikheid wees oor skoolreëls nie; leerlinge en al die ander lede van die skoolgemeenskap moet deeglik hieroor ingelig wees.
Jare gelede moes twee van my kollegas ’n geval van beweerde diskriminasie ondersoek. Die skoolhoof van een van die skole in ||Kharas het ’n leerling met uitsetting gedreig as hy nie sou ontslae raak van sy rastalokke (dreadlocks) nie. Die skool se voorgeskrewe haarstyle het nie voorsiening hiervoor gemaak nie.
Die seun se verweer was dat hy ’n lid van die Rastafariërs was en dat die tipe haarstyl ’n uitdrukking van die groep se leefstyl was. Die seun en sy ouers het as gevolg van die skoolhoof se weiering om toe te gee, hulle tot die destydse minister van onderwys, John Mutorwa, gewend.
Die seun en sy ouers was daarvan oortuig dat daar teen hom gediskrimineer word. Mutorwa se antwoord was kort en saaklik; vind ’n ander skool waar die haarstyl toegelaat word. Die minister het ook die inspekteurs beopdrag om sy skrywe aan die seun en sy ouers voor te lees en te verduidelik. Die seun het ontslae van sy lokke geraak en is terug na die skool.
Tradisioneel streef skole uniformiteit na. Hulle is daarvan oortuig dat dit tot dissipline en orde bydra. Ooreenkomstig hiermee word voorgeskrewe skooluniforms en haarstyle dan afgedwing deur dit in die gedragskode vir leerlinge op te neem. Onthou, skoolreëls is ’n vorm van ondergeskikte wetgewing solank as wat dit nie in konflik is met enige ander wetgewing of gemeenskapsbelang nie; dit is dus afdwingbaar.
Boskop-kapsels (Afro), vlegsels (braids), draaisels of tweestringvlegsels en kopvlegsels (cornrows) het al tot menige konflikte by skole aanleiding gegee waarvan sommige in die howe beland het.
In Malawi het die hooggeregshof in 2023 skole verbied om leerlinge te dwing om van hul rastalokke ontslae te raak.
In Ghana het die hoërhof beslis dat die spogskool Ahimota die leerling Tyrone Marghuj ten spyte van sy rastalokke moes toelaat. In Kenia het die hoërhof ’n soortgelyke bevel gegee.
Vreemd, in Jamaika het dié eiland se hoogste hof beslis dat die skool binne sy regte opgetree het deur toelating vir ’n vyfjarige meisie met rastalokke te weier. Die bewering van die Kensington Primêre Skool was dat dit teen die skoolreëls was en nie tot higiëne en uniformiteit bygedra het nie.
In die saak van Radebe and Others v Principal of Leseding Technical School (2013) het die Vrystaatse Hoër Hof beslis dat ’n skoolhoof se besluit om ’n leerling uit die skool te skors, tensy sy haar rastalokke (dreadlocks) afsny, onwettig, diskriminerend en ’n skending van haar regte op waardigheid, kultuur en onderwys was. Die hof het die rastalokke wat om godsdienstige redes (Rastafarianisme) gedra word, eksplisiet beskerm.
Die Rastafariërs in Namibië is ’n betreklike klein groep. Hulle is ook oor die hele land versprei. Volgens inligting op Google word die groep gelei deur ene Brian Japhta wie se strewe dit is om die verskillende Rasta-huise te unifiseer. Die groep is ook al lank besig om die gebruik van dagga (ganja/cannabis/marijuana) in die land gewettig te kry.
Die boodskap uit die howe is duidelik. Die Amerikaanse hof het in Tinker v Des Moines beslis dat leerlinge nie hul grondwetlike regte by die skoolhek agterlaat nie.
Ja, uniformiteit is belangrik vir die vestiging van orde en dissipline; onderrig en leer kan nie hiersonder realiseer nie. Maar, skoolreëls moet redelike uitsonderings maak vir die uitleef van leerlinge se godsdienstige en kulturele oortuigings. – [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie