Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Die bronne van die onderwysreg

Godfrey Kleinhans

Die Namibiese Grondwet het nie uit ’n enkel bron ontstaan nie; dit het redelike gemengde (kleurryke) ontstaansbronne. 

In ’n mate kan dit aan die koloniale geskiedenis van die land toegeskryf word. Die hoofbron van die onderwysreg is die land se Grondwet. Hoofstuk 3 van die Grondwet voorsien die breë raamwerk vir onderwysvoorsiening in die land. In terme van die Grondwet het alle kinders die reg tot onderwys en is primêre onderwys gratis en verpligtend. 

Hierdie bepaling geld vir so lank as wat die kind nog nie graad 7 geslaag het of ouer as 16 jaar is nie. Verder handel artikel 20(4) oor die formaat vir die voorsiening van privaat onderwys. Die Grondwet is breedvoerig oor die verskillende verskaffers van privaat onderwys, maar swyg oor die kwessie van tuisonderrig. Tuisonderrig het veral prominensie tydens die Covid-pandemie verkry toe die owerhede verplig was om skole te sluit. Hierdie kwessie is egter deur die wysigingswet van 2023 opgeklaar. 

Verder, uit gesprekke is dit duidelik dat daar steeds mense is wat hulle net nie met die verbod op lyfstraf in ons skole kan versoen nie. Ons sal in ’n latere rubriek meer breedvoerig aandag aan twee grondverskuiwende hofbeslissings oor hierdie onderwerp gee. 

Onderwysers behoort ook kennis van die artikels rakende kultuur (art. 19) en fundamentele vryhede (art. 21) te neem; veral die een wat handel oor godsdiensbeoefening (art. 20 C)

Die Onderwyswet van 2020 (soos gewysig) verskaf die regsraamwerk vir die lewering, bestuur en beskerming van basiese onderwys. Hierdie wet, ’n produk van die parlement, is taamlik breedvoerig en word vergesel met ’n stel ewe breedvoerige regulasies wat deur die betrokke minister geskep is. Die doel van die wet is om duidelikheid oor grondwetlike bepalings te verleen terwyl die regulasies ’n vereenvoudiging van die wet is. Die regulasies maak dit veral duidelik hoe skoolhoofde, onderwysers, skoolrade en leerlinge die bepalings van die wet moet verstaan en uitvoer. Die bestuursfunksie van delegasie speel ’n belangrike rol in die afwenteling van bevoegdheid om die implementering van die bepalings van die wet moontlik te maak. Vir die handhawing van die ideale balans tussen vryhede en verpligtinge word daar onder andere op die Wet op die Versorging en Beskerming van Kinders, Wet 3 van 2015 gesteun. Die oogmerk van hierdie wet is die beskerming van die belange van alle minderjarige kinders. Dit is dus ’n enorme taak wat op die onderwyser geplaas word solank as wat die kind op die skoolperseel onder sy/haar sorg is. 

Elke onderwyser behoort ook kennis van die Staatsdienskommissie van Namibië te neem. Die staatsdiens is ’n groot werkgewer en die regering het spoedig die nodigheid van sodanige kommissie besef. Hierdie kommissie is onafhanklik en onpartydig en rapporteer aan die staatspresident. Die kommissie adviseer die regering oor menslike hulpbronne- en staatsbestuur. Dié liggaam bevorder staatshuishouding deur professionalisme, doeltreffendheid en regverdigheid na te streef. Dit is ook die instansie wat onderwysers, wat voel dat hulle onregverdig behandel word, of teen hulle gediskrimineer word, kan nader. 

Die Namibiese reg erken ook die internasionale en gemenereg. Ons land is ’n ondertekenaar van internasionale konvensies soos die Konvensie van die Kind en die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van die Kind. Die Onderwyswet van 2020 vereis dat hierdie verpligtinge in ag geneem word. Verder het die gemenereg ’n impak op die onderwysreg in soverre dit nie in konflik met die Namibiese statutêre reg is nie. 

Die in loco parentis-leerstuk het sy oorsprong in die Romeinse Reg en is verder in die Engelse Reg ontwikkel. Die leerstuk wat “in die plek van die ouer” beteken, is ook verder in die Amerikaanse howe gedefinieer. Dit impliseer dat die onderwyser soos ’n sorgsame ouer oor die kind moet waak. 

Ons howe het nie wetgewende gesag nie, maar in terme van die presedente leer is dit ’n belangrike bron van die onderwysreg. Die howe interpreteer wetgewing en gee uitsprake wat toekomstige onderwyssake kan beïnvloed. So het die hof in “Ex parte Attorney-General in Re: Corporal Punishment by Organs of State, 1991” duidelikheid oor die grondwetlike bepaling oor lyfstraf in ons skole gegee. In die daaropvolgende hofsaak met dieselfde strekking is beslis dat die bepaling staats- sowel as privaat skole insluit. 

En laastens, skoolreëls. Elke skool het ’n stel reëls nodig om orde en dissipline te bevorder sodat onderrig en leer in ’n beskermende omgewing kan plaasvind. Die howe verleen erkenning hieraan en dwing dit af in soverre dit nie bots met bestaande reg nie. Verder vereis die howe dat die reëls van billikheid handhaaf moet word en dat skoolreëls altyd duidelik en beskikbaar moet wees. Wanneer leerlinge voor dissiplinêre komitees gedaag word, moet hulle altyd die geleentheid gegun word om hul kant van die storie te vertel. Daar moet na hulle geluister word!

Hierdie is ’n mondvol en daar kan nie van ’n onderwyser verwag word om met alles vertroud te wees nie. Maar, dit skep tog addisionele moontlikhede vir indiensopleiding vir die onderwysstreek en onderrigleiding (instructional leadership) vir die skool. Verder, onderwysers wat ernstige probleme met hul werkgewer optel, moet dit sterk oorweeg om die hulp van ’n regsgeleerde in te roep. – [email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer