Onderwys – Bestuur van skooluitrusting
Die berig, “N$1,000,000.00 school furniture missing”, in The Namibian van laas Vrydag, het my genoop om skoolmeubels en ander skooluitrusting weer onder die loep te neem.
Wanneer skoolmeubels en ander uitrusting nie doeltreffend bestuur word nie, word die bereiking van die doelwitte van gehalte-onderwys na iewers in die verskiet verskuif.
Skooluitrusting moet doeltreffend, vanaf datum van behoeftebepaling tot en met die datum wanneer dit nietig verklaar en afgeskryf word, bestuur word. Dis die enigste wyse hoe daar waarde vir die belegging verseker word. En, vir die periode van die tyd waarop dit op die skoolperseel is, is dit die skoolhoof se verantwoordelikheid om toe te sien dit word doelmatig aangewend, dit bewaar word en dat dit nie van die perseel verdwyn nie. Die skoolhoof doen dit onder die toesig van sy streekkantoor.
Maar, eers die volgende. Ek het in 1987 hoof geword van die “ou” Suiderlig Hoërskool op Keetmanshoop terwyl die nuwe skool in aanbou was. Ons het die nuwe gebou in 1988 betrek. Hierdie uiters moderne gebou was toegerus met al wat ’n skoolhoof se hart kan begeer.
Die houtwerkkamer was toegerus met moderne en toepaslike gereedskap en masjinerie. Ek, as skoolhoof, moes natuurlik ontvangs, vir alles wat aan die skool gelewer was, bevestig.
Dit het my vinnig opgeval dat die prys van die skuurmasjien nie veel van die pryse van die saag- en skaafmasjiene verskil het nie. Jy hoef nie ’n houtwerkonderwyser te wees om te weet dat laasgenoemde twee veel groter en swaarder as ’n skuurmasjien is nie.
’n Skuurmasjien daardie dae was maar ’n paar honderd rand werd. Ek het geweier om ontvangs te teken en begin navrae doen. Navrae by die bestuur by hoofkantoor en die voorrade-afdeling het niks opgelewer nie.
Die verskaffer in Port Elizabeth het ook soos die graf geswyg. Uit mismoedigheid het ek ontvangs geteken; iets waarvoor ek my steeds kwalik neem.
Terug na die berig in The Namibian. Tenders vir die lewering van lessenaars en stoele vir skole in die Omusatistreek, is aan die Eenhana Vocational Training Centre en die Saara Kuugongelwa Amadhila Resource and Vocational School toegeken.
Bogenoemde verskaffers is in 2024-’25 hiervoor betaal. ’n Ondersoek deur ene Hitilasha het egter aan die lig gebring dat die hoeveelhede wat bestel is en waarvoor reeds betaal was, nie ooreenstem met dit wat gelewer is nie.
Die response op eenvoudige en relevante navrae laat ’n mens onmiddellik onbevoegdheid, gebrekkige bestuur en ongerymdhede vermoed. Dit is presies die gevolgtrekking wat Job Amupanda gemaak het.
Die hoof van die Eenhana-opleidingsentrum het die joernalis verwys na die departement van die Namibië Opleidingsowerheid (NTA) se kommunikasie-afdeling, waar hulle hierdie vorm van navrae hanteer.
Die uitvoerende hoof van die Omusatistreek het weer alle navrae na die streekdirekteur van onderwys verwys. Laasgenoemde wat jurisdiksie oor die skole in die streek het, het versoek dat die vrae skriftelik aan hom gerig word.
My genade hoe kan dit so moeilik wees om die antwoorde te verskaf. Alle skoolhoofde is die ontvangers van uitrusting wat die staat vir skole aankoop.
Dit is sy/haar verantwoordelikheid om seker te maak dat die items wat afgelewer word, ooreenstem met dit wat op die faktuur en afleweringsnota verskyn, alvorens hy of sy ontvangs teken. Geen betaling behoort gedoen te word sonder die skoolhoof se bevestiging nie.
Ek dink almal wat die berig gelees het, besef dat alles nie kosjer is nie. Ek sal wil weet hoe die ministerie die situasie gaan aanspreek: iemand moet tog verantwoordelik gehou word!
En, gepraat van aanspreeklikheid, hoe gaan die ministerie dit in ons skole bevorder.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie