Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Befondsing van privaat onderwys

Godfrey Kleinhans

Hierdie week se rubriek gaan oor die befondsing van privaat skole, soos belowe. 

Verlede week het die minister onderneem om met ’n nuwe befondsingsmodel vorendag te kom. Sy het ook belowe om ’n element van toerekeningsvatbaarheid in die voorgenome model in te bou, wat natuurlik verwelkom word. ’n Ernstige gebrek in die aankondiging, is dat die minister nie onderskei tussen die verskillende kategorieë van privaat skole nie. Befondsing kan nie sonder hierdie onderskeid verduidelik word nie. 

Ek is nie ’n groot voorstander van privaat skole nie, dat dit die bestaande ongelykhede in die gemeenskap beklemtoon. Maar, privaat belegging in onderwys maak dit vir die staat moontlik om op areas met groter behoeftes te fokus. So het die kerke, wat skole vir sy dooplidmate gestig het, in der waarheid die verantwoordelikheid van die staat op hul skouers geneem. Dis ook ’n bewese feit dat kwaliteitonderwys meer volhoubaar in privaat skole is, weens hul groter toegang tot private geld as in staatskole met hul beperkte bronne en volgepakte klaskamers. 

Laastens, privaat skole kan help met die inname van minderbevoorregte en armer leerders en so ook die druk op die staat verminder. Soms wonder ek net hoe die seleksie van hierdie leerders gedoen word; hierdie storie is nog vir my duister!

Selfonderhoudende privaat skole is van bekostigbaar tot peperduur. Die Windhoek Internasionale Skool op die boonste punt van die skaal, is in die omgewing van N$160 000 per jaar. 

Ander skole in hierdie kategorie is skole soos Windhoek Gimnasium (N$40 920 - N$75 180), St George’s (N$48 480 - N$90 050) en St Paul’s (N$61 800 - N$79 500). Die Deutsche Höhere Privatschule (DHPS) wissel van N$70 000 tot N$95 100. Hierdie skool wat die resultaat van Duitse inisiatief is, kry ook verder finansiële ondersteuning uit Duitsland. 

Die jaarlikse fooi by Walvisbaai Privaatskool is N$30 120, en wissel tussen N$70 000 en N$75 000 by Walvisbaai Gimnasium. Ander skole is Gobabis Gimnasium (N$50 000 - N$55 000), Elnatan (N$33 360 - N$33,440), Keetmanshoop (N$61 810 - N$79 500) en Oshana Gimnasium (N$70 080 - N$76 320). 

Op die onderste ent van die skaal is die kleiner skole soos Windhoek Sentraal (N$27 000 - N$33 600) en Keetmanshoop Christian School (N$17 400 - N$19 200). Die meeste van hierdie skole hef ’n eenmalige registrasiefooi en addisionele fooie vir sport en kultuur, die gebruik van die internet ens. 

Oshana Gimnasium het selfs ’n busfooi vir die vervoer van leerders. Van die skole geniet eksterne ondersteuning soos DHPS uit Duitsland en Highlands Christian School wat deur ’n kerkgemeente uit die VSA ondersteun was. Die privaat skole bied goeie salarisse aan, maar sommige sonder pensioen- of mediese voordele

Maar, wat leer mens uit hierdie inligting? Eerstens is dit baie duidelik dat privaat skole oor die jare gegroei het en diepgewortel is in die meer vermoënde deel van die Namibiese gemeenskap. 

Verder is dit duidelik dat privaat skole nie net in een generiese poel gegroepeer kan word nie. Hulle is om verskillende redes gestig, dien verskillende gemeenskappe, hulle volg verskillende kulture en tradisies en implementeer verskillende kurrikula. 

Hulle verstaan van die hede verskil en so ook hul visies en missies vir die toekoms. En die ambivalente gevoelens teenoor privaat skole duur voort; selfs die kritici van private onderwys stuur hul kinders na privaat skole toe. 

En die befondsingsmodel? Daar is kernvrae wat mens aan die argitekte daarvan kan voorhou. Wat gaan die motivering wees om die subsidies en huurgeld wat aan die gesubsidieerde skole betaal word, te wysig? Gaan hulle die historiese agtergrond van hierdie skole in ag neem en dat hulle byna sonder uitsluiting minderbevoorregte gemeenskappe bedien? Die amptelike leerling-onderwyser-ratio word tans gebruik om die subsidies aan die Walvisbaai- en Oranjemund-skole te bereken. Watter determinante gaan gebruik word om dit te verander of gaan die ooreenkomste met hierdie skole eenvoudig genegeer word? 

Privaat skole word soos besighede bedryf en sommige moes oor die jare geweldige vermoëns opgebou het. Gaan almal oor dieselfde kam geskeer word? Gaan die Keetmanshoop Christian School dieselfde soos DHPS en Windhoek Gimnasium behandel word? Gaan daar onthou word dat van die vermoënde privaat skole altyd kan terugval op private donateurs terwyl ander nie so bevoorreg is nie? 

Een skoolhoof van ’n Christian School se versoeke om donasies is mooi van die hand gewys met die woorde: “Solank as wat die woord Christelik aan die skool se naam gekoppel is, kan ons julle nie ondersteun nie.” 

Daar is nog heelwat vrae, maar kom ons volstaan hiermee. (Die skoolfooie hierbo genoem en van die ander inligting is verkry van webtuistes en sommige van individue. Ek vrae nederig om verskoning vir enige foute wat mag ingesluip het. Hiermee bedank ek ook alle individue wat met inligtng gehelp het). – [email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer