Onderwys – Armoede en die onderwysreg
Gedurende die koloniale era is baie lande in Afrika, Suid-Amerika en Asië aan ekonomiese beleide onderwerp wat daarop gemik was om die koloniale heersers te verryk.
Rou stowwe waaraan die besetters ’n groot behoefte gehad het, is in onverwerkte vorm uitgevoer vir verdere verfyning en produksie. Verder het die kolonies ook as markte vir die vervaardigde produkte gedien.
Hierdie beleide en praktyke het baie gemeenskappe tot ongekende armoede gedwing. In plaas van breë en algemene sosioëkonomiese ontwikkeling, moes die bevryde kolonies, ná hul triomf oor hul voormalige meesters, hul kragte en bronne inspan en op armoedeverligting en -uitwissing fokus.
Die gevolg is dat bronne nie op ’n gelyke basis oor al die samelewing se sektore versprei is nie. In Namibië word 9% van die BBP (bruto binnelandse produk) en tussen 23% en 27% van die nasionale begroting op onderwys bestee, terwyl Suid-Afrika sowat 6% van BBP en tussen 19% en 24% van openbare fondse aan onderwys bestee. Dit, teenoor 8% BBP en tussen 6,8% en 7,3% van openbare fondse in ’n ontwikkelde land soos Swede. Hierdie tipe doelbewuste bevoordeling van die een en die gevolglike benadeling van die ander, sal noodwendig tot skeefgetrekte situasies in die sosioëkonomiese opset van ’n land lei.
Namibië, soos die ander voormalige kolonies, het ook by internasionale instansies aangesluit, ondertekenaars van internasionale konvensies geword en so ook toegang tot die internasionale skenkingsgemeenskap verkry. In die 90’s het baie geld die land binnegevloei, natuurlik vergesel met konsultante.
Natuurlik was dit nodig om die diskriminerende praktyke van die apartheidsverlede in Namibië te beëindig om die beloofde “land” in te stap. Daar is vroeg besef dat gelyke- en gehalteonderwys nie moontlik was in ’n etnies versnipperde opset nie.
Eerstens, is die onderwyssektor verenig onder die vaandel van die nuwe onderwysministerie en daarna is die onderwysstreke aan die hand van die wet op desentralisasie gestig. Die vraag is of lidmaatskap van internasionale liggame, die ondertekening van konvensies, toegang tot die internasionale en plaaslike skenkersgemeenskappe en plaaslike wetgewing die mate van gehalteonderwys kan voorsien wat genoegsaam is om armoede te besweer.
Nee, hierdie verantwoordelikheid word afgewentel na skolevlak, waar dit behoort. As enige mens meer wil weet van die onderwysbeleid en die implementering daarvan, is ’n besoek aan ’n skool die beste plek om te begin. Dit is ook hier waar die onderwysreg die verantwoordelikhede “begin uitdeel”.
Die kriteria vir toegang tot die onderwysberoep word duidelik deur die Publieke Dienskommissie en die Onderwysreg gereël. Omdat ’n voorbeeldige lewe so belangrik vir die beroep is, is geen kandidaat se aansoek vroeër oorweeg sonder ’n getuigskrif van sy kerkleier nie. Dit word ook nie van ’n beginner-onderwyser verwag om bewyse van ervaring voor te lê nie, maar skole kan van kandidate vir senior poste verwag om bewyse van uitnemendheid voor te lê. Hulle moet onderlê wees in die beginsels en praktyk van onderwysbestuur en onderrigleiding.
’n Onderwyser moet sy vakgebied ken en elke dag (asook by elke klaskamer) voorbereid opdaag vir onderrig. Dit is hier in die klaskamer waar die onderwyser tot ’n groot mate seker maak dat hoë promosie-, lae herhaling- en lae uitvalkoerse bereik word. Professionaliteit en voorbeeldstelling bly die kernvereistes vir uitnemendheid.
Tweedens, maak die reg voorsiening vir toesighouding oor skole deur die daarstelling van skoolrade en streekonderwysfora. Hierdie liggame kan ’n belangrike bydrae lewer tot die realisering van gehalteonderwys. Laastens is daar die streekonderwysowerheid. Hierdie kantoor is sodanig gestruktureer dat dit toesig kan hou oor elke denkbare aspek van onderwys in elke streek. Sy belangrikste funksie eindig nie by die aanstelling van onderwysers en dissiplinêre verhore nie; laasgenoemde is funksies van die breër en groter opdragte naamlik toesighouding oor doeltreffende beleidsimplementering.
Gehalteonderwys is ’n groot uitdaging; die waarskynlikheid dat dit sal realiseer is groter as al hierdie verantwoordelikhede nagekom word en prosesse gevolg word.
Dan moet ons, ons onderwysers en leerlinge te midde van alles voorberei op die komende welvaart en hoe om die vrugte te benut. As ons hierdie ingesteldheid (mindset) kan regkry, sal ons eendag uit die armoedekultuur kan ontsnap. – [email protected]
– Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie