No Image Caption

Onderwys – Skooltyd

Die mens se hele lewe word deur tyd regeer.

“If time be of all things the most precious, wasting time must be the greatest prodigality. Take time for all things: great haste makes great waste. You may delay, but time will not, and lost time is never found again,” aldus Benjamin Franklin.

My hoërskoolhoof het, doer in die 60’s, ons gereeld tydens byeenkomste die wyshede van Salomo in Prediker 3 voorgehou. Navorsers en outeurs oor hierdie tema put uit die wysheid van die werk van John B. Carrol (1963), getiteld “A Model for School Learning”.

Eerstens, aldus Carrol, bepaal die aangebore vermoë (aptitude) hoeveel tyd ’n leerder onder optimale omstandighede nodig het om ’n taak (die leerinhoud) te bemeester.

Tweedens word die vemoë om die leerinhoude te verstaan, bepaal deur die vaardighede van die leerder. Derdens sal volharding bepaal hoeveel tyd die leerder aan leer bestee.

Vierdens is daar die geleentheid om te leer wat tot die leerder se beskikking gestel word, en vyfdens die kwaliteit van onderrig.

Hierdie faktore wat bepalend is vir die tyd wat nodig is vir effektiewe leer, word verdeel tussen interne en eksterne faktore. Die interne faktore, te wete die aangebore en verworwe vermoëns, vaardighede en volharding is die unieke vermoëns waarmee elke leerder toegerus word.

Die eksterne faktore, te wete geleenthede en kwaliteit van onderrig word bepaal deur die ander rolspelers soos skoolbestuur, onderwysers en die ouers. Die optimalisering van leer vereis ’n interaktiewe tussenspel van hierdie faktore. Onderwyspraktisyns kan ook, “Beginning of Teacher Evaluation” van Bloom, Wiley, Fischer en Harnischfeger onder oë te kry.

Naas die faktore van Carrol is dit ook belangrik om bekend te wees met die verskillende kategorieë van opvoedkundige tyd. Navorsers onderskei tussen toegewysde tyd, betrokke tyd (time-on-task), akademiese leertyd en dooie tyd. Hierdie is ’n uiters belangrike, maar ’n omvattende onderwerp. In die lig hiervan sal ek hierdie week se ruimte op die betrokke blad van die dagblad slegs wy aan toegewysde tyd.

Toegewysde skooltyd word deur die onderwysreg bepaal en kom voor in die onderwyswet, onderwysregulasies, kurrikula en opdragte vervat in omsendbriewe. Hierdie tyd is fyn uitgewerk om te verseker dat alle skoolaktiwiteite soos uitgestippel in regsdokumente hierbo genoem, nagekom word. Toegewysde tyd, sê die kenners “vertel jou iets oor waardes” – die waardes van ’n distrik, skool of onderwyser blyk uit hoe tyd aan verskillende aktiwiteite toegewys word. En, toegewysde tyd verdeel in skooltyd, klastyd en onderrigtyd.

Skooltyd verwys na die aantal dae per skooljaar en skoolure per dag. Die skoolure per dag verdeel in periodes wat aan al die vakke toegewys word sowel as die pouses. Soos reeds gesê, word skooltyd statutêr bepaal en die skoolhoof en sy bestuur het geen outoriteit om dit te wysig nie. Aanvrae vir wysigings moet met goeie motivering aan die streekdirekteur via die kringinspekteur voorgelê word. Gure weersomstandighede kan as motivering vir die inkorting van ’n skooldag dien. Vroeër moes hierdie “verlore” tyd opgemaak word en gewoonlik op ’n Saterdag.

Tweedens is daar klaskamertyd. Dit is die tyd wat die onderwyser en leerders in die klaskamer deurbring. Klaskamertyd word wel deur die dagrooster bepaal, maar is geen aanduiding van hoeveel van dit aan onderrig bestee nie.

Laastens is daar onderrigtyd; dit is die tyd wat aangewend word vir die onderrig van kennis, konsepte en vaardighede. Onderrigtyd vertel jou iets oor klaskamerorganisasie en -bestuur. Met ander woorde, dit wys op die onderwyser se vermoë om onderrigaktiwiteite te organiseer en oorgange of dissipline doeltreffend te hanteer. Dit is van kardinale belang dat die verskillende kategorieë van skooltyd uiters doeltreffend bestuur word, om ons nader aan kwaliteitonderwys te bring.

Volgende week kan ons aandag skenk aan die ander aspekte van onderwystyd.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer