Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Onderwysers: Vraag en aanbod

Onderwys is seker die een sektor wat nie ’n tekort aan uitdagings het nie. Die sektor word gedurig geteister deur gebrekkige befondsing, en as of dit nie genoeg is nie, word jaarlikse toewysings gereeld besnoei. Dan word daar ook van die onderwysministerie verwag om tred te hou met tegnologiese vooruitgang om die kurrikulum relevant te hou, om genoeg onderwysers te bekom en om voldoende onderrigruimte vir die groeiende leerlingpopulasie te skep.

Maar nou, het ’n ander uitdaging sy kop uitgesteek; daar is opgeleide onderwysers in die land wat sonder werk sit. Hierdie uitdaging is nou die ander dag hard en duidelik tydens ’n protesoptog geartikuleer.

Daar kan natuurlik ’n hele aantal redes aangevoer word waarom afgestudeerde en gekwalifiseerde onderwysers nou sonder werk sit. Miskien het hulle eenvoudig nie aansoek gedoen nie of miskien het hulle swak tydens die onderhoude gevaar. Miskien is hulle “picky”, soos my dogter sal sê, en aanvaar nie wat hulle aangebied word nie. Moontlik skiet ons projeksie-, seleksie- en plasingsprosesse ver te kort. Projeksies is ’n beplanningsfunksie wat deur die betrokke direktoraat by hoofkantoor gedoen word terwyl die ander twee meer tuis hoort by die streekkantore. Enige onderwysbeplanner, wat enige van die internasionale werkwinkels oor beleid en beplanning bygewoon het, behoort dit te kan doen. En natuurlik behoort ’n onderwysbeplanner goed onderlê te wees in die hantering van Excel-sigblaaie. Projektering is ’n toekomsfunksie; data en tendense uit die verlede word bestudeer en statisties verwerk om te bepaal hoeveel onderwysers oor die medium of lang termyn nodig sal wees.

Vroeër, in die tyd van die destydse onderwysowerheid vir kleurlinge in ons buurland, is voornemende onderwysstudente gekeur ná ’n onderhoud met die inspekteur van onderwys. Die seleksieproses is dan uiteindelik deur die matriekuitslae van die belangstellendes afgerond. Toegelate studente is dan ook gehelp met staatsbeurse om hulle te help met die finansiële verpligtinge van hulle studies. Plasings van onderwysers is dan, nie alleenlik gedoen na aanleiding van die voornemende onderwyser se aansoek nie, maar ook op grond van bewese behoeftes by skole. Dit was ’n voortreflike wyse om die vloei van onderwysers na kleiner plekke en plaasskole te verseker. Onderwysbehoeftes, veral in die sogenaamde skaarsvakke soos wiskunde, chemie, fisika en selfs Engels is ook in ag geneem. So het my een broer by ’n skool in die Suid-Kaapse dorpie Haarlem beland en die ander as onderwyser vir Engels in Stellenbosch.

Dan is daar nog een aspek wat by hierdie hele proses gevoeg moet word, dit is dat die opleier (dit is die opleidingsinstansie) met die werkgewer (die ministerie) moet “praat” sodat die aanbod nie die aanvraag oorskry nie. Die opleidingsinstansies het natuurlik hul eie kriteria op grond waarvan voornemende onderwysstudente toegelaat word. Dit sluit in toelatingsvereistes (aanvaarbare graad 12-eksamenuitslae) en beskikbare bronne. Op hierdie manier kan die getalle onderwysstudente beheer word om te sorg dat die mark nie oorvoorsien word nie. En dan is daar nog twee boodskappe. Eerstens behoort afgestudeerde onderwysstudente te verstaan dat plasings die reg en funksie van die onderwysministerie is. Tweedens, is dat naskoolse opleiding ’n voorreg is en nie ’n reg wat opgeëis kan word nie. Alhoewel tersiêre opleiding ook nou gratis is, is dit beslis nie ’n reg soos in die geval van gratis basiese onderwys nie.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer