No Image Caption

Onderwys – Onderwys en die aanwending van uitgetredenes

’n Pertinente onderwerp in onderwyskringe is die aanwending van uitgetredenes in ons stelsel.

Ja, uitgetredenes kan ná uittrede nog vir ’n paar jaar in skole diens doen, maar in baie gevalle word die vaardigheid en kundigheid van hierdie praktisyns nie optimaal benut nie. Ja, ek het al heelwat hieroor geskryf en selfs al gal gebraak.

Kwaliteit-onderwys figureer maar power in sommige streke en baie skole te midde van ’n oormaat beskikbare wysheid (vaardigheid en kuindigheid). Nou wat presies is hierdie wysheid en waarom is dit bestem (of meestal bestem) vir die ouer garde.

“Wysheid spruit grootliks voort uit besinning oor vorige ervarings. Wyse mense inkorporeer vorige waarnemings en menings in ’n meer subtiele denkstyl. Hulle oorweeg verskeie perspektiewe eerder as swart-en-wit-opsies.” (ontleen van Google).

Wyse mense kan skeefgetrekte situasies duidelik uitwys, dit akkuraat ontleed en met ’n groot mate van korrektheid artikuleer wat fout is. Hulle kan ook met verskeie opsies vorendag kom hoe om die nodige regstellings te maak.

In Spreuke 1 vers 10 “kroon” Salomo ’n wyse persoon met die volgende woorde: “Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, kennis sal vir jou iets aangenaams word, oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak.”

Maar, ten spyte van hoe Salomo die wysheid aanprys word die wyses nie net geïgnoreer nie, maar hulle deelname ook ontmoedig.

Toe ’n vriend van my ’n voormalige direkteur van die ||Kharasstreek daarop wys, was sy reaksie: “Meester, julle het mos julle kans gehad, dis nou ons tyd”. En in die afwesigheid van goeie raad ploeter die streek van die een laagtepunt na die ander.

Die aanwending van hoër vlakke van vaardigheid en kundigheid is om hoër vlakke van kwaliteit en kostedoeltreffendheid te bekom. Die gebrek en miskenning daarvan kan eenvoudig nie as ’n nietigheid afgemaak word nie.

Maar, wat skuil agter hierdie neiging?

Eerstens, navorsing wys daarop dat bestuurders nie ywerig is om ouer persone of uitgetredenes in diens te neem nie. Bestuurders voel veral bedreig deur die meerdere vaardighede en kundigheid wat hierdie persone vergesel.

Tweedens, sulke persone verstaan dat verandering altyd in belang van verbetering is. Sommige bestuurders voel veilig en geborge in hul omstandighede en sal enige poging om verandering te weeg te bring, as ’n bedreiging sien.

Derdens hou bestuurders, vanweë hulle eie onsekerhede, persone met meerdere vaardighede en kundigheid uit hul werkskring.

Vierdens, om altyd in beheer te wees en te verseker dat hul outoriteit nie bevraagteken word nie, maak bestuurders weinig, indien ooit, van delegasie gebruik. Hulle sal mindere takies delegeer of van juniors in die organisasie gebruik maak.

Laastens is daar die ewige “kwalifikasie-spook”. Betuurders met laer kwalifikasies sien in die meeste gevalle kollegas met meerdere kwalifikasies as ’n bedreiging. Hulle beskik eenvoudig nie oor die nodige formele kwalifikasies of vaardighede bekom deur indiensopleiding om konflikte te hanteer of potensiële gevare af te weer nie.

Maar, dit is so onnodig. Ek verkeer onder die indruk dat privaat skole in Namibië nie ’n probleem het met die aanstelling van uitgetredenes nie. Die huidige hoof van die privaat skool op Keetmanshoop het as skoolhoof by die Sekondêre Skool PK de Villiers uitgetree. Sover my kennis strek doen hy uitstekende werk. Die Sekondêre Skool Crestway in Kaapstad het van die dienste van prof. Jonathan Jansen van die Universiteit Stellenbosch gebruik gemaak om die skool uit die “moeras” te lig. Na minder as ’n jaar kon mens die verandering sien wat Jansen se betrokkenheid te weeg gebring het. Hy is nog steeds by hierdie skool betrokke.

Die ||Kharasstreek kry binnekort ’n nuwe streekdirekteur. Ek hoop van harte dat hy of sy ’n heel ander standpunt sal inneem wat die betrokkenheid van uitgetredenes betref.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer