No Image Caption

Onderwys – Leesvaardigheid

Die minister van onderwys het nou die ander dag die bevindings van ’n leesvaardigheidstudie in die Nasionale Vergadering bekend gemaak.

Die studie het merendeels op die laer grade van die laerskool gefokus. Daar is bevind dat slegs 28% van leerlinge in die monster meer as 40% in die toets behaal het, terwyl slegs 3% meer as 75% behaal het. Dit beteken dat ietwat 69% van leerlinge met ernstige leesgebreke sit. Die syfervaardighede in hierdie groep vertel net so ’n droewige verhaal. In ons buurland, Suid-Afrika, is in soortgelyke studies bevind dat 80% van graad 3-leerlinge nie met begrip kan lees nie.

Hierdie statistieke voorspel natuurlik nie ’n rooskleurige toekoms nie en kan miskien deels verklaar waarom so ’n klein persentasie van graad 1’s na twaalf jaar in graad 12 opeindig. Leerlinge wat nie kan lees en met syfers kan werk nie, kan eenvoudig nie op meriete deur die stelsel vorder nie. Ek is oortuig daarvan dat baie van hulle na twee jaar in ’n graad outomaties bevorder word. En so word hulle uit die stelsel “outomaties bevorder” tot op die straat.

Die eerste vraag is, wat het verkeed geloop in die lig van die reusebedrae wat in onderwys belê word. Voorskoolse klasse is by die meeste laerskole geïmplementeer om kinders juis vir die “groot skool” (soos die kleintjies dit noem), voor te berei. Goedgekeurde kurrikula word deur die Namibia Institute for Educational Development, ontwikkel, deur die ministerie goedgekeur en na die streke versprei. Vakspesialiste help met die implementering daarvan en besoek ook skole om dit gereeld te monitor. Vakonderwysers en streekvakspesialiste dien op die kurrikulumkomitees wat ook gereeld kyk na die ontwikkeling van kurrikula. Skoolbesture moet met behulp van onderrigleiding tog sorg dat onderwysers die regte ding in die klaskamers doen. En daar behoort terugvoering oor suksesse en uitdagings na NIED te wees. Weer eens, hoe is dit moontlik dat iets kon verkeerd gaan met alle kontrolemeganismes in plek?

Ons sit met ’n reuseprobleem! As die probleem nie aangespreek word nie, sal ons eendag wanneer hierdie einste kinders volwassenes is, met ’n funksionele geletterdheidsprobleem in die werksopset gekonfronteer word. Hulle sal nie die geskrewe inligting en opdragte met begrip kan lees nie. Dit voorspel niks goeds vir ons ekonomie nie.

Die vraag is dus hoe gaan ons die probleem aanspreek? Om op een moontlike oorsaak te fokus sal kortsigtig wees; ’n holistiese benadering blyk die aangewese weg te wees. Ons sal moet vrae vra oor die toepaslikheid van die voorgeskrewe metodiek. Verder moet ons vrae ook gaan oor die opleiding van die onderwysers en hul onderrigmetodes, die implementering en monitering deur die streekkantore asook die aandeel van die skoolbestuur en onderrigleiding.

Ons sal ook moet bepaal of die betrokke aspekte van die kurrikulum nog relevant is en of die mandaat van die betrokke kurrikulumkomitee nog sin maak. Ons benodig ’n omvattende ondersoek!

Laastens, wat gaan ons nodig het om hierdie probleem aan te spreek en op te los. En laat my toe om sommer blatant te wees; meer geld gaan nie die probleem oplos nie. Die omvattende ondersoek moet aangewend word om ’n mediumtermyn- strategiese plan te skryf waarvolgens die probleem stelselmatig aangespreek kan word.

’n Proses om die vaardighede van vakspesialiste en onderwysers op te skaal, sal aan die gang gesit moet word. Verder kan die hulp van uitgetrede junior primêre onderwysers ingeroep word om te help. Ons sal ’n bewustheid onder die ouers moet kweek dat hulle kan besef hulle kinders het hulp nodig. Dit is nou al jare wat daar gekla word dat ons junior primêre leerlinge nie kan lees, skryf en tel nie.

Dan, hierdie reuseprobleem kan nie met sukses aangespreek word sonder ’n energieke gedrewendheid nie. Ons moet gedrewe wees. Dit is wel laat in die dag, maar alles is nog nie verlore nie.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer