Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Gratis tersiëre onderwys en die GIPF

Die onlangse aankondiging dat tersiêre onderwys van 2026 gratis sal wees, is met gemengde gevoelens ontmoet.

Vir ouers met kinders op universiteit of skool is dit welkome nuus terwyl dit ander, wat met ’n meer kritiese oog daarna kyk, met baie vrae en minder entoesiasme laat.

Die voormalige minister van onderwys, Nahas Angula, doen aan die hand dat die ministerie sy tuiswerk (en sommetjies) deeglik moet doen anders sal gratis tersiêre onderwys dieselfde paadjie as gratis basiese onderwys loop.

Ek kan nie ophou om die besluit te kontrastreer met die wêreld-ekonomiese opset soos dit nou daaruit sien nie. Daar is ’n irrasionele mens aan die stuur van sake in die Withuis in die VSA wat geen sin vir orde en stabiliteit het nie. Alhoewel ons ’n klein landjie is wat nie so ’n groot rol in wêreldsake speel nie, is ons geensins beskermd teen die irrasionele besluite van Donald Trump nie.

Met Trump aan bewind is geen land se handels- en ander verhoudinge met die VSA beskermd nie. Om een voorbeeld, Pepfar, te noem. As die VSA alle befondsing van die program opskort sal die regering noodwendig fondse moet vind vir die voortsetting van die program. Weereens, is dit die regte tyd om sulke “duur” besluite te neem? Dit is juis die vraag waarmee ek worstel; is gratis tersiêre onderwys werklik so ’n hoë prioriteit in hierdie stadium?

Kan die fondse wat daarvoor beoog word, nie gebruik word om voorskoolse, primêre en sekondêre onderwys werklik vry en gratis te maak nie? ’n Ander opsie, en ek dink ’n werklike een, is om enige surplusfondse te gebruik om die lewenskwaliteit van senior burgers te verbeter. Die staatspensioen (kierie-pay) het sedert onafhanklikwording met slegs N$1 250 gestyg terwyl die jaarlikse aanpassing van die GIPF so rondom die 4% beloop. ’n Mens kan nie help om dit te vergelyk met die astronomiese vergoedingspakkette wat die uitvoerende lede van die fonds jaarliks ontvang nie. Verlede jaar het die 12 uitvoerende lede so rondom N$43,2 miljoen ontvang; so ’n gemiddelde pakket van 3,6 dollar per lid vir die jaar. Ek (en ek dink vele ander) sou ons voortande wou gee vir so N$300 000 per maand.

Die GIPF is versigtig dat die verhoging van die maandelikse pensioen meer is as die inflasiekoers; hierdeur versterk hulle die koopkrag van die lede van die fonds. En, deur nie buitensporige verhogings aan te kondig nie, bly die fonds ook kragtig.

Onlangs is aankondig dat die fonds teen ’n koers van 11% per jaar groei en dat dit tans op N$167 miljard staan. Met hierdie inligting in gedagte, en die voorgenome gratis tersiêre, wonder ek of daar nie ’n beter bedeling vir die ouer sektor van die Namibiese bevolking beding kan word nie. Mens moet ook onthou dat die Namibiese ekonomie taamlik broos en sensitief vir skokke is. Mens kan net hoop dat van hierdie bates as ’n buffer aangewend sal word as die inflasiekoers skielik styg.

Mens moet ook onthou dat staatsamptenare se eerste pensioentjek heelwat laer is as hul laaste salaristjek. Die behoeftes krimp nie noodwendig nie en baie afgetredenes het ook nog afhanklikes en lede van die uitgebreide familie onder hulle dak. Met die lang lewensverwagting as gevolg van beter mediese versorging is bejaardes verplig om al hoe meer van hul spaargeld te gebruik om lewenstandaarde te behou.

Om by die kinders in te trek is ’n opsie; maar, sommige is nie geneë daarmee nie, terwyl sommige kinders weer nie geneë is om ouers in te neem nie. Dit is presies waar “old age dumping” begin.

Die GIPAN (wat die lede verteenwoordig) kla al lank oor hierdie stand van sake omdat hulle nie verteenwoordiging op die raad geniet nie. Hulle wil hulle belange beskerm. Die vereniging het nou amptelik klagtes van wanadministrasie en of diskriminasie by die Ombudsman ingedien. Die saaknommer is 48117.

(Ek sê baie dankie aan my vriend Dennis Fredericks vir sy insiggewende insette tot hierdie artikel.)

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer