Om te leef is die skaarste ding
Liewe kind, mag jy jou hande eendag eelte werk en mag die son jou vel vol sproete soen. Mag die laglyne plooie langs jou mond aftrek, want plooie wys dat jy lank gespaar is.
Daar is dié wat hierdie aardse son net vir ʼn dag of twee kon sien. Of glad nie. Jy’s geseënd.
Daar is ook dié wat nie werk het nie, of nie hande het om vol eelte te werk nie. (Oordeel jy my dan nou so, vir die lappe aan my lyf en die flenters aan my voete. Jy’t die stukkend-gewerkte hande gemis!)
Niks is vir altyd nie, nie ek nie en ook nie jy nie.
Mag daardie mooie meisie jou hart breek en mag jy weer liefkry, die keer vir altyd. Mag jy jou geliefdes in jou arms vang as hul gebore word. Mag jy die oues van dae in die skoot van die aarde bêre, want eers dan verstaan jy dat ons soos grassade is.
Tel jou seëninge. Tel ook jou dae.
Mag jou hart jubel en soms ook bloei, want ʼn hart wat kan bloei, lééf. Daar is ook diegene wat nie ʼn dag kon liefhê of nie liefgehad is nie (vra die weggooibabas in die slote, asdromme en weeshuise).
En as jy langs ʼn geliefde se graf staan, bewys hom ʼn guns deur voort te gaan om juis voluit te leef en die meeste van elke dag van jou lewe te maak. Neem die mooi van daardie mens met jou saam, gee dit soos ʼn aflosstok aan die volgende generasie.
Jy sien, die lewe is vir lééf. Tussen pyn en vreugde en liefde en swaarkry. Die hemel weet, ek verstaan ook nie hierdie ding van dat jy mense van jou asem moet groet nie. Soms onthou jy, só helder, en is jy dankbaar vir die genadetyd waarin jy daardie mens se lewe met hom kon deel, dat jy hom of haar kón ken.
Ja, soms is dit bliksems swaar, maar ek belowe jou, ná ʼn bitter pil is die mooi só suikersoet! Niks is vir altyd nie. Jy is geseënd, wees ook ʼn seën vir ander. Jy sal eendag daaroor moet antwoord gee.
Die digter Oscar Wilde het gesê: “To live is the rarest thing in the world. Most people exist, that is all.”
Die kanse dat juis jy lewe, ná die mensdom se eeuoue stryd om oorlewing, dat juis jou ma en pa jou verwek het, is ook die raarste ding op die aarde. Vir jou om hier te wees, moes elkeen van jou voorsate, vanaf die eerste lewe op die aarde verskyn het, suksesvol daarin gewees het om oud genoeg te raak, ‘n maat te vind en voort te plant.
Jy is gekies, jy is bedoel om hier te wees. Jou pad is vir jou uitgelê, dis nie toeval of ’n fout nie. Ek weet ook nie hoe jy hiervan kan kennis neem, sonder bewondering van jou Skepper nie.
Ek kan jou niks leer nie, want ekself weet eintlik maar ook nog nie hoe hierdie ding werk wat hulle die lewe noem nie. Ek leer al tone-stampend en wonder-wonder. Wat ek jou kán vertel is dat die lewe korter is as wat ons dink.
Eintlik is dit maklik. Vind jou weg aan die Groot Leidsman se hand, want hy is Ewig en ons is soos die blomme in die veld.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie