Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

Olifante uit middeleeuse manuskripte

Bo in die regterhoek van Cotton MS Vitellius CIII f.82r, ’n middeleeuse manuskrip wat handel oor gesondheidsmiddels, is die uitbeelding van ’n anderwêreldse skepsel.

’n Massiewe maroen dier met wit kolle, kyk na die linkerkant van die bladsy. Hierdie dier het vier pote, met vier tone en ’n stert met ’n tossel. Die mees opvallendste eienskap van hierdie kreatuur is sy groot geboë tande. Alhoewel sy klein ore en katagtige neus die indruk van ’n luiperd skep, stel hierdie tekening ’n olifant voor.

Gedurende die 11de eeu het baie min mense in Europa, en spesifiek in Engeland waar hierdie manuskrip vandaan kom, met olifante te doen gehad. Dus het hulle nie werklik baie van olifante geweet nie, ook nie hoe hulle lyk nie. Olifante was vir hierdie mense so mities soos “unicorns” en seemonsters.

’n Bekende bron van kennis in middeleeuse Engeland was die “Bestiary” – ’n versameling van diere-illustrasies met beskrywings en inligting. In die Rochester Bestiary van 1230 blyk dit asof mense meer akkurate persepsies van olifante gehad het in terme van hoe hulle lyk.

Die kennis rakende die ou grotes se gedrag was steeds maar meer legendaries as realisties. Byvoorbeeld, volgens die Bestiary, het olifante nie knieë nie. Weens hierdie fisiologiese ongemak, kan olifante nie lê en slaap nie. Hulle leun teen bome wanneer hulle ’n uiltjie knip.

’n Ander interessante brokkie te vinde in die Bestiary, is dat olifante geen voorplantingsdrang het nie. Hulle toestand is soos die van Adam en Eva voor die verleiding van die slang. So, olifante moes ’n tog na die Ooste neem sodat die bul dan van die giftige mandragora-vrug kan eet. Hierdie happie dien as ’n “aphrodisiac”. Dan is dit een, twee, drie... siedaar!

’n Koei kan net een keer in haar leeftyd dragtig word. Gedurende die bevalling moet sy in ’n poel water rondbeweeg terwyl die bul waak en haar beskerm teen hul ewige vyand, die draak.

Dit was eers in 1255 wat mense se persepsie rakende hierdie majestueus diere nader aan ons s’n getref het. Die eerste aangetekende olifant in Engeland is in hierdie jaar aan koning Henry III deur Louis IX van Frankryk geskenk. Die olifant is as spogdier in die Tower of Londen aangehou. Mense het van heinde en verre gereis om hierdie wonderlike tentoonstelling te sien. Die mees realistiese skets van ’n olifant in Engelse manuskripte tot dusver, is toe deur die kroniekskrywer, Matthew Paris, geïllustreer. As ek na die ore kyk, lyk dit soos ’n Afrika-olifant. Volgens Paris het hierdie olifant ’n luukse dieet van kwaliteit biefstuk en baie goeie rooiwyn geniet. Vandag weet ons hoekom die arme dier net vier jaar lank geleef het.

In latere manuskripte verskyn oorlogsolifante vanuit die antieke tyd met swaar houttorings vol soldate op hulle rûe. ’n Geveg tussen die Indiese koning Porus en Alexander die Grote word in ’n 1420-manuskrip uitgebeeld. Volgens legende het Porus met 100 000 olifante by die geveg opgedaag – lopende kastele vol boogskutters en soldate! Eie aan Alexander, het hy sonder om paniekerig te raak, eers die kat uit die boom gekyk. Gevolglik het hy blykbaar ’n magdom klein varkies tussen die olifante laat inhardloop terwyl sy leër op trompette geblaas het. Dit het die olifante so gedisoriënteer dat hulle begin skarrel het, oormekaar geval en weggehardloop het. Alexander, soos gewoonlik, was die oorwinnaar.

Van ’n maroen luiperdagtige monster tot die Tower of Londen se rooiwyndrinker, het die olifant stadig uit die middeleeuse wêreld van mites na ons werklikheid gestap. En tog, selfs vandag, dra hy steeds die gees van legendes. Kyk byvoorbeeld na Etosha se spookolifante. . .

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer