NWR Terracebaai
LEON KOTZE SKRYF:
Ek wil graag ’n skrywe aan NWR rig deur die media en hoop hulle reageer daarop. Nie met verskonings of beloftes nie, maar met daadwerklike optrede.
Ons was nege mense wat vanaf 1 Mei 2026 tot 4 Mei 2026 in die groot huis op Terracebaai gaan bly het. Dit is ’n baie lekker blyplek met vyf kamers, drie badkamers, groot sit/eetkamer, lekker kombuis met ’n opwasplek, buite visskoonmaakplek en ’n buitebraai. Vir hierdie “self catering”-huis betaal jy N$3 300 per nag.
Hier is my probleme egter: Daar is al vir hoelank nou al geen brandstof beskikbaar op Terrace nie. Niemand sê dit vir jou as jy jou bespreking doen nie. Eers by die Ugab-hek is daar kennisgewings dat daar geen brandstof is nie. Dan is Hentiesbaai al 150 km agter jou, meneer NWR. By die huis op Terrace aangekom, is alles skoon, beddegoed ens., maar die ligte in een badkamer werk nie, “maintenance” moet kom regmaak. Hoekom kyk julle dan nie self nie? Die braaiplek is glad nie skoongemaak nie. Die vorige manne se asse is nog daar. Die tiensny-“toaster” in die kombuis kan net vier snye op ’n slag doen en dan sit een sny nog vas ook. Die een vrieskas in die kombuis se handvatsel hang aan een skroefie, Nico het hom sommer self vir hulle reggemaak. Waar is “maintenance” of David, die bestuurder?
Omtrent al die kaste se deur en laaie in die kombuis hang skeef van skarniere wat roes en breek. Die toerusting in die kombuis, potte en panne, word al hoe minder. Ons moes gaan vra. Die televisie wat daar was, is weg.
Die huis het baie lanklaas verf gesien, so ook die hele plek. Die hele plek is “rundown” en daar word niks aan gedoen nie. Die verskoning van ’n stoor wat daar staan, is ’n skande. Die vrieskamer vir die vis wat gevang word werk nie. So kan ek aangaan.
Regtig NWR, wat doen julle aan al julle plekke? Het julle by NWR geen trots in julle nie? Ek praat met die base en bestuurders van al NWR se plekke.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie