Marietjie van Staden
Marietjie van Staden

Nuwe woord vir ou sondes

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Hulle staan daar in ’n nou kringetjie teen die Mole se muur op Swakop. Goed beskut teen die wind en die oë wat nie moet sien nie. En dis net damp waar jy kyk. Tussen die wip van die hedendaagse lang kuiwe deur.

Maar tog is daar niks nuuts aan nie.

Ons borselkop pa’s en ooms het dit ook gedoen toe hulle so jonk was of selfs jonger. Want hulle was jonk al oud, met ’n wavrag vol verantwoordelikhede. Party het al op tien die pyp begin stop. En net so ’n bietjie ouer is die proe-erdebekertjie skelmpies onder die flou tap van die stookketel ingedruk.

En ons het self stout dinge gedoen, soos om ’n tent te laat platval op ’n dierbare niksvermoedende ou oom en tannie deur almal gelyk op die fluistertelling van drie die penne uit die los grond by die see te woel en dan te laat spaander. Soveel penne soos daar was, soveel pare hakskene het gewys.

Tot almal veilig opgebondel het in die daklose kleinhysies, neuse toegedruk teen die onaangename walms uit die oop emmers en ’n lekker benoudheid om nie uitgevang te word nie.

En moeilikheid was daar.

Maar as natuurbewaring se kampkommandant die kwajongens en hul pa’s en ma’s saam die warm binneland wou injaag, was daar altyd die wyse gryses se paai: “Tog net ’n bietjie kattekwaad gewees.”

En nie lank nie of al die streke was vergeet en vergewe.

Die Namibiese plaaskind ken van zol draai met donkiedrol, en later op kosskool het jy gehoor van piesangskille se salige uitwerking. Alles is met ’n gehoes en geproes uitprobeer.

Maar toe was dit nog kattekwaad – ’n woord wat êrens langs die pad sy welverdiende plek in die volksmond verloor het. Ja, deesdae word dit groepsdruk genoem – uit die mond van die jeug.

Dis nie altemit nie. Sielkunde het ’n behoorlike vastrapplek gekry, saam met stres en al die ander hedendaagse kwale. Sielkunde het ook ’n verskoning geword.

Kry jou ma op wasdag ’n stompie vir later se dampie in jou broeksak, is die moedelose sug van vandag: “Ag ma, ma weet mos dis groepsdruk.”

Ook as jy verby die twaalfde slag van die klok dit naby die huis waag.

In die goeie, ou dae het die rottang sulke tye gepraat. Van groepsdruk wis net die geleerdes toe nog, as daar so iets was.

Geslagte lank is ons met skurwe hakskene, ’n eerste paar skoene en ’n gebrekkige telkennis van een tot tien skool toe. Van preprimêr, spraakterapeute, arbeidsterapeute en wat nog was daar nie sprake nie. By baie het die lispel, die hakkel en ander gebreke bly sit.

Maar pa’s en ma’s het ook baie minder sorge gehad. Hulle het nie geweet van klein Jannie se grootspierprobleem en klein Sannie se hand-oog-koördinasie wat nie op standaard is nie.

Ook nie van sosialiseringsprobleme en ander slim sielkundige terme nie.

Die lewe het met baie minder sorge sy gang gegaan. En dankie daarvoor, sou die ouer garde sê.

– 11 September 1995

Kommentaar

Republikein 2025-10-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer