Theo-Ben Gurirab
Theo-Ben Gurirab

Nooit met iets tevrede

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Theo-Ben Gurirab – Waarmee sal die mens ooit op aarde tevrede wees?

Dit is ’n vraag wat my lewenslank sal pla. En ek sal graag wat wou gee om iemand te ontmoet wat my ’n gepaste antwoord kan gee.

As ek dit nie mis het nie, dink ek dat dit veral die skoner geslag is wat die grootste kopseer met die lewe ondervind en nie tevrede is met wat die wêreld hulle bied nie.

Swart en bruin vroue gebruik middels om hul velkleur ligter te maak, terwyl die wit vrouens op strande rondlê en die son opsoek om soos hulle dit noem te sonbaai vir ’n donker velkleur.

Die arme Adamsgeslag in die Europese lande moet jaarliks duisende dollar opdok om hul vrouens na die “sonnige” Afrika te bring, sodat hulle bietjie of altans tydelik ’n gedaantewisseling kan ondergaan.

Hoewel Afrikalande se ekonomieë maar swak is, moet die Adamsgeslag ook ’n bietjie van sy salaris afknyp om vir sy vrou of liefmeisie van die beste doepa te koop, sodat sy ’n ligter gelaatskleur kan kry.

“Ja, ’n vrou is maar ’n onmisbare ergenis – kort, lank, vet, skraal, swart, bruin, wit of selfs pienk.”

Elke ou het sy keuse, behalwe ek wat lank nie meer kieskeurig is nie.

Reën, wat die afgelope paar jaar maar bitter skaars in Namibië is, is nou ’n probleem vir almal. Maar in goeie reënseisoene word gekla oor die reën wat braaivleisvure en sportbyeenkomste in die wiele ry. Ander wil net weer winter hê om te jag en aan biltong te smul, terwyl die res weer kla oor die koue se kwale.

En dan is daar die spreekwoord wat sê “een mens alleen onder ’n kombers is nie die winter se maat nie”. Sekerlik ook die slegste tyd om die trekpas te kry. En met ’n hele paar winters agter die rug, weet ek hoe voel dit om ’n koue bloutjie te loop.

Nie weer nie.

Ek het ook ’n bietjie gaan delf om vas te stel in watter maande van die jaar die meeste egskeidings en aanrandings op vroue plaasvind.

Asof in ’n gesamentlike koor het my vriende en kollegas en nog ander ouens van hulle laat hoor: “Jy kan nie bekostig om in die winter met jou vrou of liefmeisie skoor te soek nie. Nog minder om ’n skeisaak aanhangig te maak. Want die winter kan bitter koud en alleen raak.

Dit is ook glo die beste tyd vir flikflooi met die ja-woord wat nie lank vat om uit te borrel nie.” – 6 Februarie 1995

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer