Jeanette Diergaardt (001)
Jeanette Diergaardt (001)

Nimmereindigende stryd na ’n beter ‘jy’

Ek het onlangs ’n selfhelpboek van Robin Sharma, The 5 am Club, gekoop.

Ek probeer al jare om deel te word van ’n eksklusiewe klub. Dié klub waar mense se lewens agtermekaar is.

My ma is een van diegene wat al jare vyfuur opstaan. Ek kon dit nog nooit aanleer nie. Glo my ek het al probeer, en ek probeer nog steeds.

My wekker gaan elke dag vieruur af en dan weer vyfuur, maar ek kry myself nie uit die bed uit voor sesuur nie. Die uitsondering is wanneer ek ’n storie moet skryf wat al tegnies klaar moes wees of wanneer ek ’n skooltaak het wat ek moet inhandig.

Ek weet ek is ’n meester om myself te saboteer. Dié sabotasie het my amper ’n jaar op universiteit gekos. Gelukkig het ek steeds geslaag, maar ek het vir die ergste voorberei. Ek moet steeds ’n bykomende jaar op universiteit vir my navorsing doen; dis nou as alles goed verloop. Ek probeer om nie my kop meer as een keer te stamp nie.

Ek het nou al twee hoofstukke van die selfhelpboek gelees. Ek wonder wanneer sal ek vyfuur begin opstaan. Sal dit so ná die vyfde hoofstuk wees of wanneer ek die boek klaar gelees het. Ek sal julle laat weet. . . “To be continued.”

Ek het onlangs ’n verloofde dame geword. Dus probeer ek nou om my lewe agtermekaar te kry. Volgens die internet staan suksesvolle mense vyfuur op; en wie wil nie suksesvol wees nie. Ek probeer om alles te juggle; skoolwerk, werk en om my verloofde gelukkig te hou. Dit is al waarvoor ek deesdae tyd het.

Ek sien my vriendinne skaars, my honde wat by my ma is, het seker al vergeet wie ek is. Ek is seker hulle is minder opgewonde om my te sien. Die verhouding wat ek met my ma en suster gehad het, is nie meer so geheg nie.

My balans is heel omvergegooi. Daar is weke wat ek nie tyd vir myself het nie, en ons is nou eers in Februarie. Dinge gaan rof. As julle raad het, laat weet my gerus. Ek weet nie hoe vrouens dit regkry nie, of altans die wat lyk asof hulle hul lewens agtermekaar het.

As ek vir enigeen raad kan gee – met my min lewensondervinding – sal dit wees om nie in die mediabedryf te beland nie. Hol so ver weg as moontlik. Glo my daar is lekker tye en dit maak ’n nuwe wêreld oop, maar as jy nie ’n passie daarvoor het nie dan moet jy maar liewerste ’n ompad loop. Die meeste mense wat nog in die mediabedryf is, het of ’n passie daarvoor, of dit is die enigste beroep waarin hulle ervaring het.

Die slim mense sê jy moet jou drome en passie najaag; dit wat jou die bangste maak.

Daar is iets om ’n professionele tromspeler te word wat macramé-kuns doen, boeke lees en skryf. Kan ek dit doen? Ek kan seker. Maar sien ek kans om dit te doen? Ja, maar net as ’n stokperdjie. Het ek tyd vir enige stokperdjies? Nee. So nou probeer ek hierdie boek. Miskien sal dit my help; miskien nie. Ten minste probeer ek.

Miskien sal ek eendag ’n deurbraak in my lewe maak en die volgende Robin Sharma word. Dan sal mense soos Paulo Coelho ook my boeke lees en sê ek het mense se lewens wêreldwyd verander. As julle nie weet wie Paulo Coelho is nie, dan moet julle hom gaan opsoek. Maar as jy nie van spirituele boeke hou nie, dan is sy skryfwerk seker nie vir jou nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer