Nie tyd vir teedrink nie
“Dis die merk van Kain,” sê James Broadley.
“En dis weer die tyd.”
Met dié druk hy sy stompvinger so beurtelings onder die neus van Slabbie, Sol en Oerie.
“Ek gaan nog my vingerklub in Windhoek stig. Elke Namibiër wat ’n stuk vinger, ’n vinger of twee of meer vingers kwyt is, moet saamkom en hul sorge in ’n pot gooi.”
Oerie kyk op sy horlosie en sê dis nou tienuur in Johannesburg.
“Dis amper tyd.”
Die vier oumense gesels by die hoek waar vier erwe se heinings aansluit. Sol versit sy regtervoet grond toe en leun nou met die linker op die graaf se trapvlak terwyl die werktuig nie van veel sweet getuig nie.
Sol sê daar’s baie blare. Slabbie praat nie.
“Ek sê dis amper tyd,” sê Oerie weer met effense ongeduld, maar bly dan stil.
James vat die bo-draad vas so amper of hy vlerke sprei. “Ek bedoel dis winter,” sê hy.
“Kom die winter, kom die vleiskar. Kom die vleiskar, waai die vingers weer soos myne daardie jaar. Maar ek weet hoekom. Sien, van die goed is gevries. Die koudvat maak jou hande dood. Jy ken nie mooi jou vat nie, maar die saag ken. En daar waai die voorste lit of twee.
“Johan het syne met die grasmasjien verloor,” kap Sol so effens terug.
“Hy wou net die hoogte voel, toe top die lemme hom. Grieta het die vingers in die yskas gehou, maar toe die dokter kom, was dit klaar te laat.”
James sê jy moet net na die ouens kyk wat daar by die speseryrakke koop.
“Ek sê jou dis die vingerloses. En ek kan wed die dokters is weer nie reg vir wat gaan kom nie.” Slabbie praat nie.
Oerie sê: “Kyk die karre in die straat word minder. Dis amper tyd.”
“Daar’s g’n einde nie,” sê Sol terwyl hy twee sulke hale met sy hark gee.
“Gister het ek hier gehark. Drie sakke vol. Vandag kan jy nie sien dat ek gewerk het nie. Netma’ is dit skoon. Vanmiddag waai die westewind. Môreoggend lê hulle maar weer daar. Vir my is dit hartseer, want dis ’n tyd van afskeid. Met onse water weet ek nie of ons die na-water gaan haal nie.”
“Die winter is hier,” probeer James weer die gesprek rig. “Eergisteraand sit en sukkel ek met die verwarmer se pit. Gisteraand steek ek hom brand, maar die kinders sê dit stik so van die olie dat hulle eerder ’n dobbelpot gaan speel. Toe brand ek hom behoorlik in.
“Want Augustus lê nog ver. Eers dan kom kry die son sy draai.
“En Slabbie jy sê maar niks. Wat van jou storie dat jy op die oorlog wag, daai storie dat jy eintlik ’n atoomsplitser is. Kom ’45 se vrede, sit jy sonder werk. Van daai tyd af. Nou wag jy maar. . .”
James vervat die draad.
“Een oggend staan ons nog so, dan stoot die appelkoos sy eerste bloeisels uit. Die wingerdstok lê sommer weer dik van die vog en die vyeboom bot. Dan’s die winter verby.”
Slabbie kom in beweging en hulle weet hy gaan praat. “Net in my sal die winter altyd bly. . .”
“Dis amper teetyd,” sê Sollie.
Drie oumense maak stadig aanstaltes na hul drie kombuise toe. Net Slabbie bly. – 27 Mei 1996
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie