Marlise Izaaks
Marlise Izaaks

(Nie net) nog ’n dag. . .

Sê maar net
Sê maar net
Sanet Pearson

Wanneer jy kan sê, “dis net genade”, dan praat jy ’n ander taal. 

’n Taal wat nie almal sommer verstaan nie, maar wat deur ervaring gevorm word. Wanneer jy beplan maar jou reis ’n ander rigting inslaan. Wanneer jou lewensuitkyk skielik verander.

Ja, drome word fyn beplan en doelgerig daaraan gewerk om ’n realiteit te word, maar in ’n oogwink verander alles.

My planne vir 2025 was ook goed uiteengesit; voltooi studies, verloor nog ’n paar sentimeters, skryf aan ’n nuwe hoofstuk en die lys was lank, maar die Skepper se plan het anders vir my gelyk. Baie anders.

’n Geskeurde kolon met ’n laparotomie wat volg, vog op die longe en ’n paar maande later nog ’n laparotomie. Hoe kan dit sy plan wees? Maande se herstel en om alles te kroon, sit ek met ’n onsigbare gestremdheid vir sewe maande. My kolostomie-verpleegster het dit mooi gestel: “It’s an invisible disability.” Sy was ’n engel op my pad na herstel. Een van so baie.

Gou het ek besef, my denke sal moet verander net soos my lewe, net soos hierdie situasie, net soos my omstandighede. Want. . . die tannie aan die oorkant in die intensiewesorgeenheid lê buite hoop en kinders moes hulle pa groet, maar ek het nog ’n dag gekry. Nie deur my goeie werke nie, nee net genade.

Nog ’n trippie na die hospitaal en in die saal hoor ek ’n dame kla dat die verpleegpersoneel te stadig is, en hoekom maak hulle haar vyfuur wakker vir koffie en nogal om te stort terwyl haar dokter eers na agt haar kom besoek? Ek besef nie lank terug was dit ek wat so gekla het. Nou weet ek van beter, dat die ure in elke dag te min is vir dieselfde personeel om na elke pasiënt se behoeftes om te sien. Veral as dit sonder foute en deeglik gedoen moet word. 

My gedagtes dwaal na die honderde staatspasiënte wie nie naastenby dieselfde sorg sal ontvang nie. Ja, genade het my hierdeur gehelp. Dis daardie genade wat dokters saam met hul pasiënte laat bid en besef dis dalk buite sy vermoë, maar gee my pasiënt nog ’n dag, asseblief.

Die jaar is om en ek het my studies voltooi met my verskuilde gebrek en al. Ek het ook die sentimeters verloor, ’n week op ysblokkies is nogal doeltreffend, maar ’n ysblokkie kom nie weer naby my nie. En nou skryf ek tog aan my nuwe hoofstuk. So eintlik het my planne mooi uitgewerk, net nie soos ek gedink het dit sou nie. Want my ervaring het my ryker en wyser gemaak. Elke dag leef ek nou net deur en met genade. Genade wat ek nie verdien nie, maar wat ons almal verniet kry. Dit hang net af of jy dit besef, raaksien en uitleef. 

Genade is ’n goeie leerskool. Jy het deernis vir ander op ’n ander vlak. Elkeen se ervaring lyk anders, maar dis dieselfe genade. Hang net af of jy toelaat dat genade jou gaan leer en jou verander. 

So, wanneer ek jou goeie gesondheid en genade vir die res van 2026 toewens, is dit my gebed dat jy elke dag se genade sal koester en besef dis genoeg vir elke dag. Elke sonsopkoms wat ons groet met geleenthede is nie sommer net nog een om dieselfde foute van gister te maak nie. Jou nog ’n dag, is nog ’n kans, want wie weet waar sy genade jou in die toekoms gaan neem. Watter rigting jou lewe ook al inslaan, genade sal jou dra.

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-02-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer