Nie ’n Polo-meisie nie
My droomkar was nog altyd ’n “klein-groot”-kar. ’n Kar wat groot lyk, maar eintlik klein genoeg is sodat jy as die bestuurder steeds die punt van sy neus kan sien wanneer jy parkeer. Groot, maar kompak genoeg sodat jy nie hoef te wonder of jy die paal gaan tref wanneer jy by ’n parkeerplek inry nie.
Ons soektog na ’n kar het verlede jaar begin toe my man, wat van die huis af werk, homself begin afvra het waarom hy soggens vyfuur moet opstaan sodat ek betyds by die werk kan wees.
Dit sou ons eerste groot aankope ná ons troue wees, so natuurlik wou ons seker maak ons kies ’n kar wat finansieel prakties is én ook my persoonlikheid weerspieël.
Die dag toe ons op webwerwe van motorhandelaars begin rondkyk het, het ek vir my man gesê: “Ek moet my kar kan parkeer en, soos ek wegstap, die drang voel om om te draai en net nog één keer na hom te kyk.”
Toe voeg ek vinnig by: “Maar ek wil ook nie soos ’n tipiese jongmens wees en ’n Polo kry nie.”
Ons soektog het vol hoop begin terwyl ons ’n klomp karre gaan toetsbestuur het. Iewers langs die pad het ons egter moed verloor, want al die karre wat my oog gevang het, het nie by ons maandelikse begroting gepas nie.
Maande het verbygegaan, tot my man een oggend sê: “Liefie, fokus jy net op jou werk, dan sal ek in my vrye tyd na karre browse.” Ek het dit toe maar in sy hande gelaat, al het ek myself steeds gevang waar ek deur motorverkoopbladsye op Facebook blaai.
In die weke wat gevolg het, het my man vir my verskillende karre gestuur en gevra wat ek dink. Daar was ’n paar oulike karre, maar niks wat regtig op my “geskree” het nie.
Een namiddag sê my man hy moet vir ’n week lank weg van die huis af werk en sal my nie werk toe kan vat nie. Aangesien ons in Elisenheim woon, is taxis ’n duur opsie, so ek moes vinnig aan ’n Plan B begin dink. Ek reël toe met kollegas en familie vir rygeleenthede en alles was ten minste uitgesorteer.
Die Vrydagmiddag voor my man moes ry, sê hy: “Liefie, kom ons gaan toetsbestuur net dié een kar om die draai.” Met slepende voete sê ek ja, maar ek wou eintlik nie regtig nie.
Ons stap by die motorhandelaar in en onmiddellik sien ek ’n grys Polo Vivo met ’n geskenkstrik op. Ek dink toe nog by myself: “Must be nice. . .”
Ek volg my man na die verkoopsman en hy vra dat die man ons na die kar neem. Die verkoopsman tel ’n stel sleutels op en sluit die grys Polo oop.
Ek staan stomgeslaan en vra hoekom hy die kar met die strik daarop oopsluit. Ek kyk na my man, en hy sê net: “Dis jou kar, Liefie.”
Ek weet ek het gesê ek wil nie ’n Polo ry nie. . . maar hy ry dan nou só lekker!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie