Nie elke dogter het ‘father issues’
Ek praat natuurlik net uit my eie ervaring.
Ek weet daar is mense wat wel diep seergemaak is deur hul pa se afwesigheid en ek sal nooit hulle pyn probeer wegpraat nie. Maar terselfdertyd moet mense ook ophou om te vertel hoe ’n mens veronderstel is om te voel omdat hy/sy nie met ’n pa grootgeword het nie.
Nie elke kind sonder ’n pa dra ’n leemte vir die res van sy of haar lewe nie. Nie elke dogter het “father issues” nie. Nie elke seun word sonder rigting groot nie. Ons is nie almal dieselfde nie en ons stories hoef ook nie dieselfde te wees nie.
Ek dink ons onderskat dikwels die mense wat wel opdaag. ’n Ma wat twee rolle moes speel. ’n Ouma wat stil-stil ingespring het.
’n Oupa, oom, tannie, broer of selfs ’n onderwyser wat op die regte tyd daar was. Liefde kom nie altyd uit ’n enkele bron nie. Soms fokus ons só op wie afwesig is, dat ons vergeet om dankbaar te wees vir die mense wat nooit weggegaan het nie.
’n Mens is meer as die besluite wat jou ouers geneem het. Jou verlede verduidelik dalk sekere dinge, maar dit hoef nie jou toekoms te bepaal nie.
Ja, daar was nie ’n pa wat my elke dag kom haal het of my eerste held was nie. Maar ek het liefde geken. En asseblief, moenie probeer om verskonings vir my pa te maak nie.
Dit was sy keuse om nie daar te wees nie. Ek het vrede daarmee gemaak. Die lewe het aangegaan en ek ook.
En weet jy wat? Sommige van ons het nooit eens gevoel ons mis iets nie. Nie omdat ons nie geweet het wat ’n pa is nie, maar omdat ons geleer het om dankbaar te wees vir dit wat ons wel gehad het.
Ek kan nie verlang na iets wat nooit deel van my daaglikse lewe was nie. Ek het geleer om my alledaagse te aanvaar en dit was genoeg.
Dan hoor ’n mens ook gereeld: “Die eerste man wat veronderstel was om my lief te hê, was my pa, en hy was die eerste een wat my teleurgestel het.”
Maar wie het gesê ouers is nie in staat om teleur te stel nie? Hulle is ook maar net mense. Sommige maak goeie keuses; ander nie.
Soms gebruik ons daardie teleurstelling as ’n verskoning vir elke verkeerde verhouding of elke swak besluit wat daarop volg. Maar nie alles in ons lewe hoef na ’n afwesige pa terug te lei nie.
Miskien was ek gelukkig. Miskien het my ma my só besig gehou met liefde, dissipline en die lewe dat ek nooit gevoel het dat daar iets aan my ontbreek om heel te wees nie.
Ek sê nie ’n pa is onbelangrik nie. Ek sê net dat ’n afwesige pa nie outomaties ’n gebroke kind beteken nie.
Miskien moet ons ophou om kinders te vra: “Waar is jou pa?” en eerder begin vra: “Wie was daar vir jou?” Ek dink ons sal verbaas wees oor hoeveel mooi stories ons dan sou hoor.
En laastens, ek dink ons moet ophou om kinders wat sonder pa’s grootword, groot te maak asof hulle gebroke is. Want soms is dit nie die afwesige pa wat hulle aan hulself laat twyfel nie; dit is die wêreld wat hulle voortdurend sê hulle behoort iets te kort te skiet.
Ek het nie sonder liefde grootgeword nie. Ek het net sonder een spesifieke persoon grootgeword. Daar is ’n groot verskil. – [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie