Nóg een vir ’n gek gevang
Adam Hartman – ’n Herlewing van ’n belewenis. Dié dag van alle dae gee my motor so honderd meter van my huis die gees. Ek besef toe eers dat my gereedskap by die huis lê. Ek dink vinnig, spring met ’n enkele sprong uit die kar, klap die deur met ’n harde slag toe en begin stadig huiswaarts draf.
Gelukkig staan my voordeur oop (Het ek dit dan nie toegesluit nie?). Ek stap vinnig in en soek onder ou wasgoed en beddegoed en “speelgoed” na my gereedskap. Uiteindelik vind ek dit langs my bergfiets wat lyk asof dit ’n gedrog is wat so pas uit die donker eeue getrap is.
Ek kyk na my horlosie en sien dat die tyd te vinnig vir my aanstap. Ek is reeds laat vir die daaglikse vergadering by die kantoor. Ek dink weer vinnig. Deur uit. Trappe op. Spring oor die hek en begin weer draf.
Ek kom by my motor en hou niks van wat daar in my kop aangaan nie. Hoekom het ek nie gedink nie. My motorsleutels lag vir my van binne die toegesluite kar. Nou ja, dis hoe my dag begin het, maar kom ek los eers die besonderhede en skuif so paar ure na vore. Ek het so gehoop my werk sal so bietjie verligting vir die dag bring, maar o wee!
My lessenaar is oorlaai met skryfwerk en afsprake met vreemdelinge. Ek probeer maar my beste en doen soveel ek kan, maar hoe meer ek probeer, hoe minder doen ek totdat ek (en my baas) uiteindelik van geen storie kop of stert kan uitmaak nie. My baas kyk my skeef aan en sê ek moet aanbly om te sien of ek nie dalk iets wat die moeite werk is vir die volgende dag kan skryf nie.
Nóg so uur of twee na vore.
Almal is reeds snoesig by die huis met naastes en al. Die kantoor is stil. Te stil, en ek besluit om die kantoortelevisie aan te skakel.
’n Vrou sit voor haar nuuslessenaar met ’n glimlag en vertel aan die sowat een miljoen Namibiërs van ’n satelliet wat die atmosfeer van Namibië gaan binnedring.
Dis mos nuus, dan nie?
“Die satelliet sal soos ’n groot rooi lig in die hemelruim verskyn sodra dit die atmosfeer tref en daarna soos ’n verskietende ster vir drie minute bokant Namibië in die ruimte hang. Die verskynsel sal tussen 20:45 en 21:00 plaasvind,” het die nuusleser gesê.
Ek kyk na my horlosie en sien dat dit 20:40 was. Nog voor sy die storie kan eindig sit ek al in my “Rooi Gevaar” – dis nou my tjôr – en laat spaander na die naaste uitkykpos met my kamera en al. Ek maak toe seker dat my kamera reeds ingestel is en ek is vol vertroue dat ek nou ’n bobaas-storie met ’n goeie foto wat die moeite werd is vir die volgende dag, sal hê.
My oë is op die groot hemelruim gevestig – “vier handbreedtes bokant die horison,” weergalm die nuusvrou se woorde in my ore.
Die tyd stap aan en dit het ewe skielik vir my gelyk asof al die sterre, wat na verskietende sterre lyk, groot, helder, rooi balle in die hemelruim was. Ek wag en wag en wag.
Soos ’n dief in die nag, kruip die gedagte na vore dat daardie glimlag glad nie na ’n glimlag gelyk het nie.
En ewe skielik “click” ek. Dis Blou Maandag, 1 April. . . “April Fool!”
’n Groot, helder, rooi bal verskyn toe bo-op die uitkykpos en soos ’n verskietende ster, jaag ek en my Rooi Gevaar huis toe. – 4 April 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie