New York 2016
Dit is nou amper tien jaar gelede sedert ek my eerste oorsese reis aangepak het, en dit nogal na die “Big Apple”.
Ja, die lewe het weer vir my sin begin maak en die Groot Skepper het geweet, hierdie dame en kleiner skeppertjie het ’n avontuur nodig gehad. Natuurlik was ek bang om alleen rigting te probeer vind in die massiewe JFK-lughawe na my eerste rit in ’n geel taxi.
Ek moes darem die foto kry om huis toe te stuur. En was my mense verlig om te sien, hierdie meisiekind van Rehoboth se stofstrate is veilig ná amper 13 000 kilometer oor die Atlantiese Oseaan. My adres – 52ste-straat, Oos-Manhattan – so twee strate noord van die Verenigde Nasies se gebou waar ek vir die volgende maand kennis gaan opdoen.
Met my aankoms by die hotel wou die moegheid van die lang vlug begin inskop, maar ek moes eers my omgewing gaan verken. Ook goed so, want my liggaam het vinnig by die tydsverandering aangepas.
Ek kan nou nie dieselfde van my kamermaat Kyu-Kyu van Mianmar sê nie. Foeitog, na ’n week kon sy eers op dieselfde tyd as ons groep van 15 joernaliste begin funksioneer.
En elke dag was ingeryg met afsprake, vergaderings, inligtingsessies en vele meer. Dit was beslis nie ’n vakansie om plekke van ontspanning te verken nie.
Die oggendstap na die VN was ’n redelike afstand, as mens die enorme geboue en breë strate in ag neem. My mentor van Namibië se woorde het elke keer weerklink as ek die strate invaar: “Onthou om aan die regterkant te stap, want daar werk alles omgekeerd.”
Weet jy, sulke dinge kan die New Yorkers omkrap, as jy aan die verkeerde kant stap, of te stadig jou koffiebestelling gee. Niemand het tyd saamgebring nie. As Starbucks net nie so baie keuses gehad het nie. Ek het die ongeduldige barista so paar keer in Afrikaans geantwoord, niks sleg nie, net dat hy sagter moet praat, ek is mos nie doof nie!
Ek het gou weer besef watter besondere plek Namibië in die VN en wêreld het, of gehad het in 2016. Hoeveel mense van ander lande na ons opkyk en beny vir ons stabiliteit en orde.
Ek het die beste komplimente oor ons land ontvang; ons standvastige Grondwet en leiers, vrye media, goeie wette wat hulpbronne beskerm. Maar wat sê hulle vandag? Dis die vraag.
Nietemin, dit was ’n eer om ’n Namibiër in die VN-huis te wees. Een van die plekke waar jy regtig tuis voel, al is jy in die vreemde, want dis almal se huis. Nie perfek nie, maar tuis en veilig.
Na weke se seminare, lesse, besoeke aan mediahuise, toere deur die saal van die Veiligheidsraad en ’n ontmoeting met die sekretaris-generaal van daardie tyd, kom ons by die hoogtepunt, die VN se Algemene Vergadering.
Nog ’n trotse oomblik vir hierdie dame was toe ons president, dr. Hage Geingob, die vergadering toegespreek het en ek die groot byeenkoms kon bywoon.
Behalwe die welkome VN-besoek, kon ek darem ander juwele inneem. Die uitsig vanaf die 102de vloer van die Empire State-gebou, Ground Zero waar die Twin Towers was, Lady Liberty, Central Park, die Harley Davidson-winkel natuurlik en etlike treinritte op die Metro.
Dis hartseer om te besef ek sal dalk nooit weer Noord-Amerika kan besoek nie, nie met vandag se vereistes vir ’n visum nie.
Hartseer dat ek dalk nie saam met my geliefdes in Times Square sal kan sit en na die duisende skerms kyk nie.
Dankbaar vir die geleentheid en soveel ander waaroor ek jou op ’n volgende keer gaan vertel.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie