Photo Caption
Photo Caption

Net ’n tafel?

Sê maar net
René Hugo

René Hugo – Sondag kry ek ’n noodoproep van my skoondogter: “Ma, wat maak julle vir ete? My mense soek iets spesiaal – en my idees is op!”

Ek verstaan so goed wat sy vra, want huisetes (en veral Sondagmiddag-etes) is, was, en sal seker altyd ’n spesiale familiegeleentheid wees. Die oproep laat my toe ver paaie loop, na ander spesiale etes

Seker een van die wonderlikste ervarings wat ek ooit gehad het, was die dag toe ons in Milaan (so half onverwags, want dit hang mos in ’n klein half verslete ou kerkie) Michelangelo se skildery, Die Laaste Avondmaal, gesien het. Wat my só getref het, was die emosies van liefde en vreugdevolle samesyn rondom ’n etenstafel, wat uit die skildery gestraal het.

Slegs ’n paar dae later sien ek dieselfde emosies, duidelik uitgebeeld in Vincent van Gogh se skildery van ’n familie van arm myners wat saam om ’n tafel aartappels (dit was al wat hulle gehad het) eet. Min kos, maar ’n oorvloed van liefderyke gesins-saamwees.

In die huis waarin ek grootgeword het, het ons altyd as gesin saans saam geëet. Dan was dit ook ’n tyd van gesels oor die dag se gebeure, lekker saamlag oor mislukkings en vreugdevolle gedeelde blydskap oor die goeie dinge wat op ons pad gekom het. 

Dit was behoorlik asof ons gevoel het die gesin word, deur aan tafel saam te eet, teen die aanslae van die wêreld daar buite bewaar.

’n Belangrike deel van die ete was natuurlik die tafelgebed. Voor ete vra Pa die seën en na die tyd hou ons huisgodsdiens. Alles begin om sesuur sodat ons teen seweuur klaar kan wees vir die Nuus, gevolg deur “Die Du Plooys van Soetmelksvlei”. 

Die seëngebed het ’n spesifieke formule gehad, wat ek glo Pa uit sy ouerhuis saamgebring het. Maar eendag is dié formule onverwags verander. Nie die oorbekende begin: “Seën Vader dit wat ons eet” nie. Pa het sy hand ingedagte na sy oor toe gebring en formeel gesê: “Du Plessis hier”. Chaos het gevolg met Kleinboet wat homself nie kon keer nie en al kruipend van die lag gevra het: “Pa was die nommer dalk beset?!!”

Maar hierdie gebed by etes laat my dink aan iets waarop Manlief in sy leeswerk oor Namibiese geskiedenis afgekom het. Die Rynse Sending Genootskap se Opleidingseenheid het in 1753 vir al die sendelinge wat na Namibië sou kom ’n tafelgebed ontwerp wat hulle in die sendingveld kon gebruik. En so het sendelinge soos Hugo Hahn, Kleinschmidt, Olb asook die bekende sendelingskrywer dr.Vedder as volg aan tafel gebid: 

“Komm Her Jesus, sei du unser Gast,

und segne, was du uns bescheret hast.

Lieber Gott, lass deine Segen

ũber unsere Tische fegen.” 

Hierdie tafelgebed, so spesiaal vir Namibië en sy inwoners, was vir ons só mooi, dat ons ons Duitse buurman daarvan vertel het. Hy vra toe hoe die gebed klink en nadat Manlief dit voorgedra het, skiet sy oë vol trane. Hy sê: “Dit was wat my Pa altyd aan tafel gebid het.” Meer as twee eeue later!

Nou besef ek met sekerheid; kos wat met liefde voorberei is, tesame met ’n gebed uit die hart, omkring die familie. En dit kan tot ver in die toekoms strek. Solank ons dit weet en glo, is ouers en kinders in Sy veilige hande saamgesnoer.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer