Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

Nederige koffie in ’n wêreld van luuksheid

Gerhardus van Grootfontein – My koffie het so pas hier aangekom. Die koffie is lou. Lou koffie is soos ’n slegte tyding – trauma wat jou binnekant ruk.

Nadat ek die trauma verwerk het, vra ek vir die vriendelike barista om asseblief my koffie kokend warm te maak. Ek het dit met ’n glimlag gedoen en hy het met oorgawe aan my versoek voldoen. ’n Mens hoef nie ’n norsjors in ’n koffiewinkel te wees nie. Bedagte kommunikasie bevoordeel beide partye.

Ek stuur altyd koffie terug wanneer ek ontevrede is. My vriende voel ’n mens moet dit in stilte verduur. Ek reken jy sal nie ’n T-hemp met ’n gat in in ’n klerewinkel koop nie, so waarom is jy bereid om vir ’n koffie te betaal wat substandaard is? Met die pryse van koffie, is 4 tot 5 koffies al gelykstaande aan ’n T-hemp se prys in sommige klerewinkels.

“Om te gaan koffie”, soos dit soms onder my generasie bekend staan, is ’n absolute luuksheid. Hoekom is dit so gewilde stokperdjie? Wel, dit maak die samesyn tussen vriende net soveel lekkerder. Die rede hiervoor is omdat dit ’n gemoedsopkikker is. Soos sjokolade en kuns, skei koffie dopamien af en laat die verbruiker net ’n titseltjie meer blydskap ervaar. Gevolglik ervaar vriende en geliefdes meer vreugde wanneer hulle om ’ n koffiepot klets en kraai. Hierdie stimuli is blykbaar (volgens legende) hoe koffie ontdek is.

Gedurende die 9de eeu, in Ethiopië, het die bokwagter, Kaldi, opgemerk dat sy bokke ’n tipe bessie eet en toe baie opgewekte gedrag toon. Kaldi besluit om self van die bessies te eet en ervaar toe dieselfde as die bokke. Opgewonde het Kaldi hierdie spesiale bessies na ’n wyse monnik geneem. Die monnik het aandagtig na die bokwagter geluister, na die bessies gekyk, en het besluit dit is absolute snert. Die monnik het die bessies in die vuur gegooi. Die aroma wat toe uit die vuur uit opslaan, was bedwelmend. So besluit Kaldi en die monnik om hierdie bessies te brou. Hierdie brousel was die eerste koppie koffie.

Daar is verskillende weergawes van hierdie legende, maar die feit bly staan dat ons grote Afrika nie net die wieg van die mens is nie, maar ook die eerste koppie koffie. Dit was eenvoudige koffie; nie die fênsie koffies wat vandag opslae maak nie.

’n Eenvoudige koppie koffie kan vreugde inhou. Ek het grootgeword met kits- en filterkoffie. Die eerste keer wat ek ’n cappuccino gesien het, was op die televisiereeks Friends. Ek was 11 jaar oud toe ek die eerste keer ’n cappuccino gedrink het – in Kaapstad se Kompanje Tuine, 1997.

Die room het ’n snor onder my neus gemaak en ons het lekker gelag! Die lekkerte van die cappuccino was nie gemeet aan die smaak nie, maar die pret wat ons gesin gehad om soos ons Amerikaanse vriende, Ross en Rachel, aan die warm drankie te teug.

Ek dink weens globalisering en sosiale media kan die koffiekultuur soms redelik snobisties voorkom. ’n Lekker Guatemala-brousel met kardemom is salig en plesierig, maar die fynproewers begin al hoe meer unieke en dekadente koffie as alledaags te bevorder. Die werklikheid is, dis baie duur. Tog voel baie mense hulle moet hulself bewys deur sekere koffies te drink, of aan gaste te bedien. Ek het ’n vriendin wat op ’n tyd goedkoop koffie in ’n duur koffieblik gegooi het. Ek is nie seker vir wie sy geflous het nie: haarself of haar gaste...

Koffie, in ons tuis-vasteland, het ’n nederige ontstaan. Ons hoef nie altyd die beste koffie te drink nie. Geniet dit vir die boeretroos wat dit is. Wanneer jy ’n arm en ’n been in ’n koffiewinkel betaal, ja, dan verwag ’n mens dat jou koffie van ’n sekere gehalte moet wees. Koffie moet jou laat glimlag en ontspan, nie jou neus in die lug laat stoot nie.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Rayno Julius 1 Dag Gelede 31 July 2025

Ja ek stem. As mens vir 'n koffie betaal, dan moet dit ordentlik gedoen word en ek stuur ook my koffie terug as dit nie lekker kokend warm is nie. Ek is mos daar om rustig te sit en die koffie te geniet veral as ek met vriende of familie is. My eerste cuppaccino weet ek het eers iewers in my vroeë dertigs ontdek. Ja dit is haertseer ek weet maar tog was dit 'n lekker ervaring die eerste keer. Alhoewel by my eerste werk, het my duitse kollega my filterkoffie geleer. Dit was 'n bietjie sterk vir my gewees want ek was net gewoond aan Ricoffy en Frisco met 3 teelepels suiker. Daar het ek begin sterk koffie leer drink en begin waardeer. Oor die jare het my suiker verbruik minder geraak totdat ek glad nie meer in my koffie vat nie, want dit "spoil" die smaak heeltemal. So nou drink ek gereeld my swart Nespresso in die oggend en dan kry ek later vir my 'n cuppaccino. Dit kos baie geld, maar die lewe is te hard om slegte koffie te drink. En ek geniet dit so om met vriende en familie by 'n plek te gaan sit en koffie te geniet. Koffie bring maar mense nader aan mekaar. Die koffie snobs het ek gelukkig nog nie teegekom nie, maar elkeen het mos sy smaak in koffie....of dit nou Ricoffy, Frisco, Jacobs of 'n Seattle/Slowtown is, as dit jou 'n glimlag op jou gesig bring, dan is dit al is wat tel. Baie mooi artikel.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer