Kristien Kruger
Kristien Kruger

’n Vriendelike versoek aan fietsryers

Kristien Kruger
Die hele Windhoek oefen tans vir die Dash. Ek is nou nie ’n fietsryer nie, maar ek kan nie help om my soms vir hulle te vererg nie.

As jy ’n fietsryer is, laat weet gerus wat die rede is waarom julle in die pad wil ry; geen vrees vir voertuie nie. Of neem julle net aan dat die bestuurders uit hul pad sal gaan om jou nie raak te ry nie? Dit is ’n gevaarlike aanname om te maak.

Ek het onlangs ’n vurige debat op Facebook gesien oor ’n foto van twee fietsryers wat in Windhoek se strate langs mekaar in die pad ry. Die persoon wat dit geplaas het deel my mening oor fietsryers se siening dat hulle kan ry soos hulle wil en die res van ons moet net daarby inpas.

In die plasing het iemand egter daarop gewys dat die fietsryers aan ’n wedren of geleentheid deelgeneem het, wat deur ’n plaaslike maatskappy aangebied is. Toe sien ek eers die nommers op hul rûe. Hoewel dit steeds gevaarlik is en dit mense omkrap, dink ek in hierdie geval was dit nie die ryers se skuld nie. Tydens sulke geleenthede is dit die organiseerders se plig om ryers (net soos met drawwers) te beskerm deur die paaie af te baken of verkeer op so ’n manier te beheer dat dit nie die deelnemers se lewens in gevaar stel nie.

Mense wat wel op hulle eie of deel van ’n groep ry, moet verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid neem.

Selfs op paaie – met genoeg ruimte vir fietsryers – besluit hulle om nie agtermekaar te ry nie, maar sommer drie-drie langs mekaar. Dit is tog nie asof julle met mekaar kan gesels nie.

Ek gee nie om om vir fietsryers uit te swaai nie, maar soms kom daar ’n voertuig van voor of dit is op ’n bult en ek kan nie veilig by die fietsryer verbykom nie. Nou moet ek geduldig wag vir ’n geleentheid om verby te gaan terwyl daar genoeg ruimte vir die fietsryers is om veilig te ry.

Ek is nou nie onredelik nie en is toegeeflik teenoor meeste fietsryers. Maar as jy besluit om 17:00 in spitsverkeer op Robert Mugabe-rylaan te ry, weet ek nie presies wat jy gedink het nie.

Of is dit net ek wat so voel? Mis ek iets? Is daar ’n rede hiervoor?

Ek verstaan ons paaie neem nie altyd fietsryers in ag nie, maar hierdie mense plaas hul eie lewens – en die lewens van bestuurders – in gevaar deur onverantwoordelik te ry en dit as vanselfsprekend te aanvaar dat mense om hulle sal ry. Dit is ’n risiko vir almal op die pad.

Ek weet nie wat die oplossing is nie en ek is meer as bereid om met fietsryers in gesprek te tree en hulle kant van die saak te hoor. Dalk is my inligting skraps, maar een ding is verseker – dit is gevaarlik en frustrerend.

Ek as ’n bestuurder sal my bes doen om fietsryers se veiligheid te verseker. Ek wil egter alle fietsryer versoek om ook ander padgebruikers in ag te neem. Dit is uiteraard jou lewe wat in groter gevaar is.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer