Adam Hartman
Adam Hartman

’n Stukkie hemel op aarde

Adam Hartman
Daar is ’n vers in 2 Petrus wat ek onlangs raakgelees het. Dit praat van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde – ’n plek waar geregtigheid tuis is.

Nou, ek weet die meeste lesers het nie elke dag tyd vir sulke tekste nie, maar die gedagte het by my gebly, omdat dit só sterk bots met die werklikheid waarin ons leef.

As ons eerlik is, is hierdie wêreld nie ’n maklike plek nie. Dit is eintlik ’n harde stuk grond om op te woon. Dood, lyding, tragedie, siekte, oorlog, verdeeldheid, uitbranding, woede, depressie – dis alles alledaags.

Die nuus bring stories van rampspoed en oorlading. Mense val mekaar met skerp woorde aan. Ander trek terug in hul eie klein grotte van wanhoop. Jy hoef nie ver te soek vir iets wat breek of seermaak nie.

Selfs die natuur, wat dikwels ons enigste asemrowende ontsnapping is, kreun onder sy eie worstelinge. Veldbrande, droogtes, oorbenutting van hulpbronne, spesies wat verdwyn – dís ook deel van die prentjie. Die wêreld kan mooi wees, ja, maar dit is ’n mooi wat sukkel om kop bo water te hou.

In teenstelling hiermee is daar die hemelse ideaal waarvan mense al eeue lank praat: ’n Wêreld sonder trane, sonder pyn, sonder bedrog of gebrokenheid. ’n Wêreld van lig, liefde, waarheid en lewe.

Maar dit, volgens gelowiges, lê in die toekoms. Iets wat nog moet kom. Iets waarna ’n mens kan uitsien, maar nie nou ten volle kan ervaar nie.

En dis hier waar die spanning lê. Ons leef tussen dié twee werklikhede. Hier, maar nie heeltemal tuis hier nie. In die wêreld, maar nie van die wêreld nie – soos die ou gesegde lui.

Soms voel dit asof ons net vorentoe in oorlewingsmodus beweeg en wag vir iets beter om te kom. Wag vir ’n wêreld wat reg sal voel. Wag vir asem wat makliker in ons longe ingesuig kan word.

Maar toe vra iemand my onlangs ’n heel eenvoudige vraag: “Dink jy daardie persoon is mooi?”

Ek het lankal besef dat skoonheid ’n vreemde ding is om te probeer definieer. Ja, miskien nie volgens die glans van tydskrifvoorblaaie nie, maar vir my maak ’n glimlag mense mooi.

Selfs iemand wat volgens die wêreld se standaarde “onaansienlik” is, word skielik die mooiste wese wanneer hulle opreg glimlag. En dan, ironies genoeg, kan ’n pragtige mens sonder ’n glimlag die lelikste voorkoms hê. Dit laat my elke keer aan Jesus se woorde dink oor lig: “Laat julle lig skyn.”

’n Glimlag is nie ’n teologiese ding nie, dit is iets mensliks. Iets universeel. Iets wat ’n vertrek verander. Iets wat ’n gebroke wêreld nodig het. En dit bring my terug na die gedagte wat ek met jou wil deel: Wat as ons elkeen, net vir vandag, ’n stukkie hemel op aarde kan wees?

Nie omdat ons probeer om van die duisternis te ontsnap nie. Nie omdat ons voorgee alles is goed nie. Maar omdat die wêreld juis dit kort – mense wat ’n bietjie lig dra. Mense wat aan hoop vashou. Mense wat werklik omgee. Mense wat ander raaksien. Mense wie se teenwoordigheid dit makliker maak om asem te haal. Mense wat goed ruik in die figuurlike sin – daardie “aangename geur” waarvan Paulus skryf.

Mense wat die atmosfeer effens verander, net omdat hulle elke dag besluit om nie toe te laat dat die donkerte hul innerlike oorheers nie.

Philippense 4:8 sê ’n mens moet dink aan alles wat waar, eerbaar en mooi is, maar die waarheid is: Dis nie altyd maklik nie.

Wanneer jou “inbox” vol is, jou skouers styf is, die petrolprys jou keel toedruk en die wêreld kort-kort sy hardheid wys, voel ’n mens nie soos ’n ligstraal nie. Jou glimlag raak dun. Jou pas raak stadiger.

Maar dalk is dít die punt: Om ’n stukkie hemel op aarde te wees, begin nie by volmaakte omstandighede nie. Dit begin wanneer ons besef dat hoop self ’n soort teenwoordigheid is en dat elke mens wat hoop het iets verander.

Wanneer jy vriendelik is in ’n winkel waar almal gejaagd is. Wanneer jy luister. Wanneer jy nie net sien nie, maar dinge raaksien.

Wanneer jy lag, selfs al is jou dag lank. Wanneer jy iemand help sonder dat dit ’n rubriek haal. Wanneer jy die waarheid praat sonder om iets te breek. Wanneer jy liefde gee sonder om beurte te tel. Wanneer die wêreld donker is, is lig nie ’n luuksheid nie, dis ’n noodsaaklikheid.

Daarom, in plaas daarvan om net in die ellende van hierdie wêreld vas te kyk, of om net te wag vir ’n toekomstige volmaaktheid, kan ons dalk kies om nou reeds iets van daardie komende wêreld te dra. ’n Voorsmakie daarvan. ’n Klein stukkie hemel wat saam met jou beweeg waar jy ook al gaan.

Miskien trek dit eendag iemand anders nader. Miskien laat dit iemand vra: “Wat is die rede vir die hoop wat jy het?”

En miskien, net miskien, maak dit hierdie wêreld ’n bietjie minder soos die hel waaroor mense kla, en ’n bietjie meer soos die hemel waarna talle smag.

Net vir vandag – kom ons wees ’n stukkie hemel op aarde.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer