Hester Steenkamp
Hester Steenkamp

’n Pleidooi

Hou jy daarvan om ’n “sundowner” op ’n Kalahari-duin te drink terwyl jy jou tone diep in die rooi sand inboor? Om wintermaande vir jou ’n paar vet springbokke te skiet wat in die strate tussen die duine wei? Of dalk hou jy van ’n skaapribbetjie wat op kameeldoringkole braai terwyl jy na die naglewe in die Kgalagadi luister? Wat van om ’n kraan oop te draai en heerlike vars water te drink? A-geklassifiseerde water wat diep uit die maag van onse Kalahari kom? Hou jy daarvan? Sal jy dit nog eendag wil doen? Dan sal jy gou moet maak, want dit gaan jou nie meer vir lank beskore wees nie.

Ons het groot moeilikheid. Ek kan nou vir julle vertel van sandsteenlae, foutlyne en boorgate, van die besoedeling en vernietiging in Kazakstan, Australië, Bulgarye en die Tsjeggiese Republiek waar hierdie tipe ontginning reeds gebeur. Of van die proses hoe hulle uraan ontgin deur batterysuur in ons water te gooi en sodoende ons waterbronne besoedel.

Ek kan vertel van hoe dit 3,48 miljoen hektaar radioaktief en onbewoonbaar gaan maak. Of dat die hele Stampriet-akwifer vergiftig gaan word. Ek kan vertel hoeveel boorgate (duisende) hulle besig is om te boor. Ek kan vertel dat dit in sommige lande (Amerika) glad nie toegelaat word om op hierdie manier te myn waar drinkwater betrokke is nie. Maar ek gaan nie. Vir hierdie inligting stel ek voor julle sluit aan by SAUMA se Facebookblad.

Wat ek wel gaan sê, is dit: Die Russe soek ons uraan. En hulle gee nie om wat die prys is wat daarvoor betaal moet word nie. En ek praat nie net van rande en sente nie, want daarvan het hulle genoeg. Ek praat van lewe. Want water ís lewe. Ek praat van mense, diere en plante wat die prys gaan betaal. Ek praat van gemeenskappe en ouers en kinders, en hulle kinders, en hulle s’n tot in die hoeveelste geslag, want radioaktiwiteit verdwyn nie binne ’n jaar of drie nie. Dit vat honderde jare. Ek praat van ’n omgewing wat nie net op landbou staatmaak nie, maar ook op toerisme. Wie wil ’n radioaktiewe land besoek? Wie wil vleis en groente eet van ’n land wat blootgestel is aan swaarmetale? En wie wil water drink en weet dis eintlik kleur-, reuk- en smaaklose gif? Die oomblik wat die Russe gaan begin ontgin (hulle het reeds die uraan gekry), is die kans vir omdraai en jammer wees verby.

Ons regering het permitte aan die Russe toegeken. Ons kan nou vinger wys en beskuldigings rondgooi, en alles wat ons kwytraak sal heel waarskynlik die waarheid wees, maar dit gaan niks aan die situasie verander nie.

Die feit is dat die toestemming vir die toetsmyn so te sê reeds goedgekeur is. Die tyd het aangebreek waar ons moet saamstaan en Goliat met ons klein kaiingklippie moet omgooi, anders gaan die lewe, soos ons dit ken, vir altyd verlore wees. Nou moet ons verby die geklingel van dollars luister. Ons moet luister na ons nageslagte se versugtinge na ’n gesonde omgewing. Dit wat ons moes bewoon, bewerk en bewáár. Ons moet luister na die mense wie se inkomste geraak gaan word, en die gemeenskappe wat geslagte lank ’n bestaan maak uit dit wat aan hulle toevertrou is. Ons moet nou groter dink as onsself. Ons moet fokus op die lang termyn; op wat hier gaan agterbly nadat ons lankal nie meer hier is nie. Ons moet nooit toelaat dat ons nageslag vertel dat dit ons was wat die land verkoop het nie.

Daarom rig ek ’n pleidooi aan elkeen wat hier lees – raak asseblief betrokke. Ons moet hierdie tipe ontginning stop. Ek vra nie vir myself nie, maar vir almal hier en vir almal wat nog sal kom. Asseblief.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer