Adéle van Niekerk
Adéle van Niekerk

’n Nuwe Jaar. . . ’n nuwe hart. . . ’n nuwe jy

Dis ’n nuwe jaar. . . nuwe geleenthede. . . nuwe uitdagings. . . ’n nuwe missie en visie. . . en die belangrikste van als. . . ’n nuwe jy!

Baie van ons wonder soms aan die begin van elke jaar wat kan ek hierdie jaar anders of beter doen? Hoe gaan ek hierdie jaar meer sukses behaal, beter presteer en gelukkiger wees?

Die eintlike vraag wat jy vir jouself moet vra is, wie wil ék aan die einde van hierdie jaar wees? Dis ’n vraag wat ons vir onsself daagliks moet vra en nie net aan die begin van elke nuwe jaar nie. In plaas van om te vra hoe ek alles kan beter doen. . . vra eerder wie is ek?

Die antwoord is eenvoudig. . . jy is jou hart! Jou hart is jou identiteit. ’n Hart wat oorloop van liefde, omgee, geduld, genade, respek, empatie, dankbaarheid, vriendelikheid en nederigheid, kweek ware sukses. Fokus op oplossings in plaas van probleme en pak elke geleentheid met deursettingsvermoë aan en jy sal jou doel bereik. Jou hart bepaal nie net jou nuwe jaar nie, maar jou nuwe jy. Hou moed, en laat jou integriteit jou deur die moeilike tyd lei. Glo en vertrou dat ’n opregte en geduldige hart selfs die grootste uitdagings sal oorkom.

Elke jaar is ’n kans om te groei, te leer en te word wie jou hart sê jy moet wees. Kweek jou hart met liefde en deernis, want dit is die sleutel tot ware, volhoubare sukses. Dit wat jy die meeste waardeer, word jou prioriteit.

As jou hart op liefde, waarheid en deernis gerig is, begin jy jouself sien as iemand wat so leef. Jou besluite word met jou hart geneem en wanneer jou hart verander, verander jou optrede en word dit deel van jou identiteit. ’n Veranderde hart bring ’n nuwe manier van leef.

Jou hart skep ’n jaar vol ongelooflike geleenthede. Om te wees wie jy is, beteken eintlik om te reflekteer oor jouself en jou lewensrigting. Jy en jou hart is ’n kombinasie van waardes en gewoontes, en om bewustelik daaraan te bou, neem jy beheer oor wie jy wil wees. Jou hart skryf ’n storie oor wat jy oor jouself glo, en wanneer daardie storie genees word, word jou identiteit vernuwe.

Jou hart is die bron van jou energie. Sukses gaan nie oor prestasie nie, maar oor ’n mooier hart. Dit beteken dat jou sukses nie afhanklik is van jou omstandighede nie, maar van jou innerlike krag. . . jou hart. . . jou identiteit.

Skop jou jaar af met ’n nuwe jy! Voed jou hart met positiwiteit sodat jy die beste weergawe van jouself kan wees. Wanneer jou hart verander, verander jou liefde, wanneer jou liefde verander, verander jou lewe, en wanneer jou lewe verander, verander jou identiteit.

Vertrou hierdie jaar op jou hart sodat jy die beste en suksesvolste weergawe van jouself kan ontdek.

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer