Thusie Gamibes
Thusie Gamibes

’n Mens kan ja of nee sê, dis jou besluit

Sê maar net
Thusie Gamibes

Die Bybel leer ons die besluit om “ja” te sê, ’n “ja” moet wees, en ’n besluit om “nee’ te sê, ’n “nee” moet wees – gegrond op ’n eerlike, betroubare en geloofwaardige besluitnemingsproses.

En onthou dat jy, deur ja te sê, goedkeuring verleen, ’n deur vir iemand oopmaak of ’n vriend help – maar deur nee te sê, beskerm jy jouself teen dit wat daarna kan gebeur.

Jy is nie onmenslik as jy nee sê nie; jy trek net ’n streep tot waartoe jy in staat is en nie verder nie. Dit is dus jou keuse of jy ja of nee sê, gebaseer op die voor- en nadele wat daaruit kan voortspruit. Dit is maar allerdaags dat mense nie daarvan hou om verwerp te word nie. 

Volgens mense is jy ’n baie goeie mens. Jy hoef nie altyd instemmend te wees nie. Jy het ook die reg om nee te sê wanneer jy ongemaklik voel oor ’n situasie of nie met iets saamstem nie. Dit is belangrik om jou eie grense te ken én dit te respekteer. Elke mens het die reg om gerespekteer te word, om sy of haar eie besluite te neem en om te sê hoe hy of sy voel. 

Niemand behoort jou te dwing om iets te doen waarmee jy nie gemaklik is nie. Om nee te sê beteken nie jy is ongeskik of lelik nie. Dit beteken jy staan vir jouself op en beskerm jou regte.

Ons moet ook ander mense se grense respekteer. Wanneer iemand nee sê, moet ons na hulle luister en hul besluit aanvaar. ’n Gesonde verhouding tussen mense is gebaseer op respek, vertroue en toestemming.

Ten slotte is dit belangrik om te weet ons hoef nie altyd instemmend te wees nie. Ons het die reg om te sê wanneer iets ons ongemaklik laat voel of wanneer ons nie daarmee saamstem nie.

Ons moet ons eie regte en grense respekteer, maar ook die nee van ander mense aanvaar. Deur vir onsself op te staan en ons gevoelens te respekteer, leer ons om weloorwoë en verantwoordelike besluite te neem. Daarom is dit belangrik om te onthou: jou nee is net so belangrik soos jou ja.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-10-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer