’n Lewe sonder druk en drama
So vertel hy my van die koue as jy in ’n kar slaap.
Dis asof die koue jou bekruip so om 02:47 en die volgende uiter: “Jy mag maar saggies vloek as jy te koud kry. . . ek sal vir niemand sê wat uit jou mond gekom het nie.”
“En so begin vertrou en bevriend jy die koue en deel jou diepste geheime met wind en weer. ’n Meer stewige fondasie sal jy nêrens anders vind nie.”
Hy hou egter by die koue gemak van sy bakkie en verduidelik die vrede en vryheid wat jy ervaar as jy jouself aan niemand hoef te verduidelik nie – veral as die persoon haarself nog nie gevind het nie en almal loop en naboots en jy moet net probeer byhou of jy nou eers jou wonde wil lek of nie.
“G’n wonder ons vind ons toevlug na drank, dwelms, dobbel en pornografie. . .”
En in ’n lang tyd praat hy iets waarmee ek nogal saamstem en meteens is my nuuskierigheid geprikkel!
“Wat dink jy van die behuisingskrisis wat ons tans ervaar wil ek by hom weet?”
“Geen siel het jou gedwing om ’n huislening aan te gaan nie, veral as jy voor die Vader weet jy kan dit nie bekostig om in daai spogbuurt te woon nie,” vertel hy terwyl hy sy voortande aan ’n taai tjoppie haak.
“Marriages and mortgages is ongelukkig nie vir ons almal nie,” en hier moet ek weer met hom saamstem en my oorle ouma se sentiment heelhartig uitspreek.
“Trou is nie pêrre koop nie, want ’n perd kan jy weer verkoop. Die skoner geslag duld ongelukkig nie daai tipe transaksie nie.”
So dwaal ons gesprek na die kommerwekkende selfdoodstatistieke, geldskieters en Facebook wat as ’n bona fide-verslawing geklassifiseer moet word. En hy vra my of ek weet dat ander bekendes soos Jim Carrey ook in hulle karre nes opgeskop het.
“Kyk waar is hulle vandag!. . . fris, woes bebaard, skatryk en met ’n filosofiese uitkyk oor die lewe, want waaroor gaan dit alles?”
“’n Bakkie is ook die beste low-maintenance boundary waar hy ook al parkeer is en gee nuwe betekenis aan die konsep van distance over disrespect. As jy jou vererg vir iemand se dwaasheid of hardkoppigheid, hoef jy slegs ’n kort draai te ry en soms permanent wegbly,” vat hy ons gesprek verder – “’n bietjie afsondering doen wonders vir die siel en genesing is gewaarborg.”
“Jy moet dit ernstig oorweeg om jouself in ’n volgende leeftyd as ’n verkoopsman te bekwaam – ’n beter sales pitch het my twee ore lanklaas gehoor,” probeer ek om ’n bietjie humor aan die gesprek te verleen.
En dit blyk asof hy nou ook geweldig geleer het by die koue in en rondom sy bakkie, wat tot sy volgende vraag gelei het.
“Weet jy dat ons so baie by diere kan leer. . . hoe hulle ’n yskoue winter deurmaak sonder enige bedekking. Jou liggaam het nie net die vermoë om energie te stoor nie, maar kan ook hitte stoor.”
Ek dink terug aan ’n tyd toe ek oorsee gewoon het en jy is meer as welkom om ’n oorsese winter in ’n bakkie sonder komberse en slegs die hitte wat jou lyf gestoor het, aan te pak!
“Nou wat maak jy met jouself as jy ure in ’n bakkie vertoef?”
Hy dink vir ’n oomblik voor hy peinsend my vraag beantwoord.
“Ek raak gesond,” fluister hy saggies.
Ek bespeur toe ’n onsigbare, maar broeiende wantroue in die mensdom en besluit toe maar om stadig die gesprek rondom die bakkie tot ’n stilstand te bring.
Sy volgende vraag laat sak egter die handrem.
“Wanneer laas het jy gelag dat jou maag kramp of saam daai Rod Steward-nommertjies gesing of jou ou lyfie geskud tot die trane loop?”
“. . . oor goed wat jy nie gedoen het nie en mense wat jy nie ken nie,” probeer ek weer om ’n ligter noot te vind.
“Nie uit enige dronkverdriet nie, maar uit dankbaarheid, want jy was daar en die great memories is nou omskep in padkos.”
Die lewe is deesdae te vinnig en daar is maar min tyd vir enige grappies of great memories, moet ek toegee.
“En dan bid ek ook en praat met God oor alles,” kyk hy na iets wat net hy kan sien.
“Ons word omring deur allerhande drama en druk, maar wanneer laas het jy net stilgeraak en ’n bietjie jou koppie leeggemaak?”
“Wat bedoel jy met koppie leegmaak?” vra ek terwyl ek rondom my kyk of ek nie iewers ’n houer vergeet het nie.
“Ons het opinies en menings vir elke liewe onderwerp onder die son en jou verstand is die koppie wat so nou en dan moet leeggemaak word,” sê hy met ’n onverklaarbare gloei en verligting wat diep uit sy binneste kruip.
Ek kyk in die rigting van my bakkie wat onder die afdak geparkeer is en die bakkie kry geleidelik dieselfde glow-up wat ’n paar minute op my vriend se gesig verskyn het – amper soos ’n tempel op vier wiele!
“Vader, beskerm my bakkie, seën dit en verlos my bakkie van enige bose of demoniese mag wat dit wil skade aandoen, in Jesus naam, Amen,” prewel ek ’n kort gebed.
“Wat ook al ons besit, besit later vir ons en dit maak dit nog moeiliker om daai koppie leeg te maak,” uiter hy met die selfvertroue, finaliteit en Facebook-wysheid van iemand wat lank die ongure weerstoestande in ’n Toyota Hilux 2.5 D-4D 4x4 SRX DC M27 verduur het.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie