Patricia van Rooi
Patricia van Rooi

’n Klein plakker, ’n groot verskil

Sê maar net
Patricia van Rooi

Ek probeer nou al meer as 18 jaar lank verstaan ​​hoe om my tipe 1-diabetes te bestuur en vir 17 jaar daarvan was dit – na my mening – ’n groot ramp.

My bloedsuiker het al meer rondgehardloop as Frankie Fredericks en hoër geskiet as Mount Everest. Tog het die Here my gedra tot vandag toe, waar dit vir my uiteindelik lyk asof ek rigting met my bloedsuikervlakke kry.

Ek het al ’n paar keer in ’n dokter se spreekkamer ingestap om bloedtoetsuitslae te bespreek, net om die woorde te hoor: “Hoe is jy nog lewend met dié hoë suiker?”

“Dok, ek weet nie!”

Ek is al op sewejarige ouderdom met diabetes gediagnoseer. Ek moet seker dankbaar wees dat ek met die toestand kon grootword, maar die pad tot vandag toe was nie maklik nie.

Ek spuit myself amper meer as drie tot vier keer per dag met insulien in en probeer my suiker ten minste een keer toets, al skel my dokter my uit dat ek dit meer moet doen.

Maar vanjaar het dit verander – ek is aan ’n deurlopende glukosemonitor bekend gestel. Dit lyk amper soos ’n klein, ronde plakker wat jy aan jou arm vasplak; dit verbind aan jou foon, wat jou bloedsuiker toets en boodskappe met die lesings na jou foon stuur.

Dit het my lewe op soveel maniere baie makliker gemaak. Maar met iets soos dit op jou arm wat sigbaar is vir ander mense, word baie vrae gevra.

Vrae soos: “Is dit ’n nikotienplakker”, of die ongemaklike vraag: “Is dit ’n tipe voorbehoedmiddel.” Maar meer onlangs het ek vir die eerste keer, nie ’n vraag nie, maar ’n vreemde stelling van ’n kollega oor my klein plakker gekry: “Jy lyk amper soos ’n robot met daai ding op jou arm.”

Ek was natuurlik stomgeslaan, maar ook nuuskierig om sy verduideliking te hoor. Volgens hom lyk ek soos iemand wat deur ’n wetenskaplike eksperiment gegaan het en ’n prostetiese ledemaat bygekry het.

Ek was vasgevang tussen die gevoel dat ek beledig is en die drang om te lag, maar tog het ek maar net gesê: “I have no comment.”

Diabetes is ’n lewenstyltoestand wat vir almal verskillend is en met vandag se mediese vooruitgang kan ek seker verwag dat behandelingsplanne met ’n paar onbekende toestelle gaan kom, wat gekoppel is aan vreemde vrae van mense wat nie aan die mediese vooruitgang gewoond is nie.

En tog is ek baie bly oor my klein plakker op my arm – dit het darem my Mount Everest ’n bietjie kleiner gemaak.


[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.



Kommentaar

Republikein 2026-09-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer