’n Jaar met Lisa
Wanneer jy die kans gegun word om iets weer te doen wat jy voorheen ook gedoen het en jy het die geleentheid om dit met insig te kan doen, met lesse wat jy terugskouend geleer het. Hoe pak ’n mens die tweede kans aan? Ek persoonlik doen dit met die doel om beter te doen as die eerste maal.
2026 is my jaar met Lisa. Hierdie jaar werk ek van die huis af om nader aan my kind te kan wees. Februarie is amptelik maand een van werk en dit gaan maar lekker rof sover. Nie met Lisa nie, maar met die werk.
Lisa is ook omring deur ’n liefdevolle huishulp wat instaan wanneer die werk harder roep as wat Mamma se aandag kan strek, maar ek is gelukkig meestal binne hoorafstand van enige moeilikheid.
Sover het ons ook weens sekere omstandighede vir Oupa byderhand, aan wie ons innig dankbaar is vir sy teenwoordigheid by ons in die huis.
Daar is ’n ander Ouma en Oupa wat vanjaar weer meer by ons seun Chris betrokke is en ons is dankbaar vir almal se insette met die grootmaak van ons kinders. Hoe sê hulle, “It takes a village to raise a child”. Die verskil is, dit het in die verlede gevoel of Mamma en Pappa net gaan geldmaak het en die grootmaak van die kinders aan ander oorgelaat het. Hierdie ronde is Mamma “hands-on” deel van die span en dit is vir haar bitter lekker.
Die breë glimlag wat hierdie mamma kry wanneer sy oor die rand van die kot loer en die erkenning soos ’n sonsopkoms op Lisa se gesiggie verskyn, kan nie deur enige inkomste in hierdie wêreld vervang word nie.
Dis ook vir my lekker om te verstaan hoekom Sussie skielik moeiliker as gewoonlik is. Is dit slaap, moegheid, ’n vuil doek of is sy honger? Met ons seun was hy meestal omgekrap omdat hy met koliek gesukkel het. Die situasie is anders met Lisa. Sover is daar gelukkig nog geen groot Lisa-“avonture” om aan te meld nie. Hierdie ma sê dit in die lig daarvan dat alles tot dusver goed verloop en ons hoop dat dit nog lank so sal bly.
Avonture sal ons weldra skep wanneer die geleentheid hom daarvoor voordoen en ons hoop dat dit dan werklik positiewe avonture sal wees en bly.
Hospitaaluitstappies en sulke tipe “avonture” doen ons slegs om positiewe gesindheid te behou onder slegte omstandighede.
Dit is lekker om te sien hoe ons Lisa-kind ontwikkel. Die selfstandige regop sit in die arms en die koppie wat al redelik sterk self regop gehou kan word, is vir hierdie ma ’n riem onder die hart, want ek weet hoe dit voel as jou hart in jou skoene sak oor ’n kind.
Hiermee stuur ek vir elkeen wat hier lees ’n breë, sonskynhelder Lisa-glimlag om jou dag en hopelik die week op te helder. Ons gesels weer.
Met liefde, van Wiesie.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie