Wiesie Kotzu00E9
Wiesie Kotzu00E9

’n Jaar met Lisa: Maand 8

Sê maar net
Wiesie Kotzé

Ná maande se geknaag en ’n babadogtertjie wat haar ietwat soos ’n piranha gedra (skouers word geknaag, vingers word geknaag, bottel omhulsels word geknaag) loer daar uiteindelik twee vlymskerp tandjies deur haar tandvleis. 

Aan die een kant is ek, as haar ma, verlig dat ons wel dié mylpaal bereik het. Maar aan die ander kant is ek ’n bietjie ontnugter deur die gedagte dat ek ’n jaar gelede reeds swanger met ons meisiekind was. 

Ek was al voorheen verstom oor hoe die tyd en die lewe eenvoudig voortstorm, terwyl dit diep binne-in my gees voel asof die tyd stilstaan. Veral een klein hoekie van my hart is agter ’n groot swaar grendel weggebêre waar tyd nie aanbeweeg nie.

Waar ek ’n maand en ’n half gelede dagboek gehou het daarvan dat sy net-net kan regop sit, met ondersteuning, sit ons meisiekind nou gemaklik regop sonder enige ondersteuning. Die groei is amper meetbaar. 

Ons voormalige mentor in vroeëkinderontwikkeling, Nita Coetzee van BabyGym, sal trots wees daarop dat sussie, wanneer sy op ’n mat neergesit word, al haarself heen en weer “skuif” deur haar voete te gebruik.

Sy rol ook nou en dan van haar rug na haar maag en weer terug. Dit is noemenswaardig aangesien dit ontwikkelingstreëtjies is in die groter prentjie van ’n kind wat besig is om te leer kruip.

Lisa se ongestruktureerde gebabbel begin intussen vorm aanneem en ek is trots om die ontvanger te wees van “Mamamamamamama”. Jammer Pappa, die “Papapapapapa” is nog nie daar nie. Dis net tong in die kies. Sover ek lees dra dit geen werklike spraakbetekenis nie. Die mamama-klanke is net tipies van die eerste klanke wat in ’n baba se taalontwikkeling aanmekaargeryg word.

Maar hierdie trotse mamma ontvang dit graag elke keer en reageer sommer al daarop asof sy my direk aanspreek. Dit kan tog nie skade aanrig nie. 

Haar oom uit die verre Amerikas het gou vir die naweek kom kuier. Hy is mal oor kinders en het dit ’n paar keer gewaag om vir sussie vas te hou.

Sy is heel tevrede in hierdie stadium by mense wat sy aan en af op ’n gereelde basis sien, maar hierdie vreemde oom, maak nie saak hoe sy hart vir kinders klop nie, was nie vir haar heeltemal aanneemlik nie.

Selfs met ’n vol maag en onder relatief ideale omstandighede, het dit hoogstens tien minute geduur voordat sy besluit het dat hy maar net té vreemd vir haar is. Toemaar, dit sal beter raak wanneer sy ouer is. Gelukkig weet hy dit ook. 

Here, dankie vir ’n kind wat besig is om te groei teen ’n amper meetbare spoed. Dankie vir al die mense wat deel van haar lewe is.

Dankie vir die mense by wie ons geleer het hoe om na haar om te sien voordat sy nog deel van ons lewens was. Baie dankie vir die voorreg om haar ouers te mag wees. Amen.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer