Wiesie Kotzu00E9
Wiesie Kotzu00E9

’n Jaar met Lisa agter die rug

Sê maar net
Wiesie Kotzé

Ek het die datum lank en van ver af dopgehou en dit het in ’n oogwink verbygegaan. 

Die spoed waarteen dit verbybeweeg het, was amper hoorbaar. Dankie Here vir ’n jaar van ons kind se lewe saam met ons.

Ek hoef beslis nie te begin koer oor al die oulike goedjies wat ons meisiekind intussen kan doen nie. Enigiemand weet dat kleintjies vanaf die dag van hul geboorte al hoe interessanter en slimmer raak.

Ek het net nie gedink hierdie datum – wat ek vir so lank met ingehoue ​​asem dopgehou het – sal SO vinnig by my verbygaan nie. Te midde van die liefde, ondersteuning en teenwoordigheid van wonderlike vriende en familie wat deel van ons lewens geword het.

Ons het ontspanne feesgevier, soos ons lanklaas gevier het. Oud en jonk. Die bewustes en die onbewustes, uitasem ná ’n jaar van hoop en wonder. 

’n Jaar wat aan ons deur statistieke gegee is. Statistieke waarvan ons onverwags en teënsinnig deel geword het. Tydens die verjaardagviering is daar in die swembad rondgeplons en oor allerhande lawwighede gesels.

Saam met ou familie wat ons nou eers werklik leer ken en saam met wie ons die laaste paar jaar harde klippe gekou het. Saam met nuwe vriende wat verstaan hoe dit is om te wag en te hoop.

Om te besef daar is soms diegene van wie jy insig sou verwag het, maar wat dit toe nie kon bied nie. En om oukei daarmee te wees. En ’n jaar is nie die einde van die reis nie, dit is maar net die begin.

Dis die begin van ’n seisoen as ’n gesin saam, wat ons tans baie geniet. Wat ons wel sover by die lewe geleer het, is ’n mens se lewe is vir niemand vanselfsprekend nie en om tyd saam as gesin te mag deurbring, ’n voorreg is. Ons probeer om dit te onthou en te geniet vir so lank as wat ons kan. 

Ouboet het ’n kleinsus en kleinsus het ’n ouboet. Ons het weer twee kinders onder ons dak en hulle is maats vir mekaar. Én daar is gister, skaars twee daggies ná haar eerste verjaardag, sommer al met haar geraas ook. Welkom by die werklikheid, Lisa. 

As jy jou boetie se Lego-katalogus skeur, gaan hy ongelukkig met jou raak. Selfs dié insident was vir my ’n goue oomblik. 

Onlangs met Ewigheidsondag wat in die Duitse kerk-kalender gevier is, stuur my peetma vir my die boodskap aan: “Dink aan julle vandag met Mari, waar ons die Ewigheidsondag vier.”

Die lewe hang in die weegskaal tussen vreugde en verlies. Dit help nie ’n mens probeer voorgee dat die een of die ander aspek nie bestaan nie. Beide is deel van wat dit behels om te lewe. En dit is wat die lewe so besonders maak. So mooi, op sy eie manier. 

Met liefde, van Wiesie.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer