Adu00E9le van Niekerk
Adu00E9le van Niekerk

’n Brief na die hemel

Sê maar net
Adéle van Niekerk

Dit is amper drie jaar sedert my mamma en pappa weg is. Drie jaar. As ek dit hardop sê, klink dit na ’n lang tyd. Maar vir my voel dit soms soos gister, en ander dae soos ’n leeftyd gelede.

Liewe Mamma en Pappa,

Ek wonder soms hoe ’n mens ’n brief hemel toe stuur. Is daar ’n adres? ’n Posbus tussen die wolke? Of moet ek maar net hoop dat elke woord wat ek hier skryf op een of ander manier by julle uitkom?

Ek mis julle. Twee eenvoudige woorde, maar hulle dra ’n wêreld se verlange. Ek mis julle stemme, julle lag, ons geselsies en veral daardie drukkies waarin alles vir ’n oomblik weer reg gevoel het. Ek klou steeds vas aan elke herinnering, want dit is nou die plek waar ek julle weer kan vind.

Dis snaaks hoe ek nie die groot dinge die meeste mis nie. Dis die gewone goed. Om sommer net te kon bel. Om by julle in te stap en te weet ek is tuis. Om iets te vertel en reeds te weet hoe julle gaan reageer. Ek sou vandag enigiets gee vir nog een van daardie doodgewone dae wat ek destyds gedink het altyd daar sou wees.

Mamma en Pappa, ek wens so julle kon sien dat al daardie jare se harde leer uiteindelik ’n werklikheid geword het. Julle juffrou staan vandag voor haar eie leerders. Hoeveel keer het ek nie gehoor: “Hoe vorder die studies?, Wanneer skryf jy?”, “Ek haal my hoed af vir jou“ nie. En dan, sonder uitsondering: “Sterkte, my skat. Ons dink aan jou.” Destyds was dit net woorde wat my deur nog ’n toets, taak of eksamen gedra het. Vandag besef ek hoeveel liefde in daardie eenvoudige woorde opgesluit was. Ek wens ek kon net een keer huis toe kom en vir julle sê: “Ek het dit gemaak.” Ek sou enigiets gee om julle gesigte te sien en te hoor dat julle trots is.

Mamma en Pappa, daar is nog iets waarvoor ek nooit genoeg dankie sal kan sê nie: dankie vir die onvoorwaardelike liefde waarmee julle my van kleins af omring het. Dankie dat ek deur my kinderjare en elke fase van my lewe altyd geweet het ek het twee mense wat my liefhet, in my glo en agter my staan. Julle was vir my die mooiste voorbeeld van ’n liefde wat geen einde geken het nie.

As die hemel besoekure gehad het, sou ek eerste in die ry staan. Ek sou nie geskenke gebring het nie. Ek sou net julle hande wou vashou en na julle stemme wou luister. Ek sou nie haastig wees nie, want nou weet ek hoe duur vyf minute kan wees wanneer jy dit nie meer kan kry nie.

Mamma en Pappa, dankie vir elke gebed, elke opoffering, elke “sterkte, my skat” en elke drukkie. Dankie dat julle in my geglo het lank voordat ek self kon sien waarheen die pad my sou neem. Julle het nie vandag ’n plek voor in my klaskamer nie, maar ek dra julle elke dag saam met my wanneer ek daar instap.

Ek weet nie of briewe die hemel bereik nie, maar as hierdie een tog sy pad na julle vind, hoop ek julle weet, al kan ek julle nie meer sien of julle hande vashou nie, voel ek julle steeds by my – in die stil oomblikke, in die herinneringe en op die dae wanneer ek julle die nodigste het. Wanneer die lewe soms swaar raak, herinner ek myself daaraan dat ek nooit werklik alleen stap nie, want diep in my hart weet ek Mamma en Pappa stap steeds elke tree aan my sy. Tot ons weer ontmoet, sal ek julle liefde uitleef, julle herinneringe koester en julle elke dag saam met my dra. Na drie jaar mis ek julle steeds met my hele hart, maar ek het julle ook steeds met my hele hart lief.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-10-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer