’n Bietjie geduld kos jou niks
Ek is beslis nie een van die geduldigste mense nie.
Vra maar my man en kinders. Maar ek probeer. Ek probeer, régtig.
Veral wanneer kleinsus besluit sy wil nie nou haar tande borsel nie en ons is amper laat vir skool! Maar dan is daar ook tye wanneer ek weet daar is sekere plekke waar jy nie jou “toys” uit jou kot kan gooi nie.
Ek is in ’n spesifieke winkel en die meeste Walvisbaaiers weet dat die winkel se slaghuisgedeelte ALTYD baie besig is, gewoonlik in die oggende.
Hier net na 16:00 en weer so na 18:00 is dit soms ’n bietjie rustiger. Maar op hierdie spesifieke dag is dit BESIG. Daar is drie vroue wat agter die toonbank help en daar is baie mense wat wag.
Nou ek ken al – wees geduldig, jy sal jou beurt kry. Die een tannie wat voor my staan, staan dalk ’n minuut of twee langer as ek in die ry en sy besluit toe sy gaan nou ’n “gasket” blaas.
Sy raas daar op een van die vroue en sê sy staan nou al baie lank in die ry. Haar man kom toe ook, maar baie kalmer, en sê hulle wag nou al ’n tydjie. Hulle word toe gehelp, sit hul bestelling in, en die vrou is toe weg agtertoe om hul bestelling te gaan pak.
Nou staan ons almal daar in ’n ongemaklike stilte, nadat sy haar speelgoed uit haar kot gegooi het.
Ek was veronderstel om volgende te wees, maar die vrou langs my gee toe sommer haar bestelling, en ek los dit maar. Wat is nog ’n paar minute?
Want weet julle hoekom?
Ek kon sien daardie vroue agter die toonbank was moeg. Hulle is nou al heeldag op hul voete. Op en af. Op en af. En nou kom jy en baklei met hulle? Nee.
’n Mens mors sobiso nie met iemand wat jou kos hanteer nie. Daar is mooier maniere om hierdie soort situasies te hanteer.
Net gisteroggend weer, op pad skool toe is ons in Unionstraat – ek moet afdraai – so nou moet ek vir die karre wag wat van voor af kom. Die persoon aan die anderkant wys toe na die bestuurder voor my, en na my, dat ons gou kan indraai. Baie gaaf van haar. Sy wys toe na nog ’n kar om te draai. Dit alles gebeur in ’n oogwink. Die bestuurder agter haar besluit toe om op die toeter te lê. Die vrou het volgens dié persoon iets verskrikliks gedoen. Wat is ’n paar sekondes?
Oukei, ja, dit is wel spitstyd, na 07:00 – maar sy het gedink sy doen iets goeds net om oor die vingers getik te word.
Dis dieselfde met inwoners van Walvisbaai wat besluit het om sake in hul eie hande te neem en die slaggate te vul – net sodat mense bietjie makliker kan ry, want die paaie gaan nie binnekort herstel word nie. En daar raas almal ook net weer omdat een inwoner besluit het, genoeg is genoeg.
Waar trek ’n mens die streep? Ek bedoel, ek is hier om jou te help, jy raas met my want jy het ’n minuut langer gewag? Dit kan seker geregverdig word, daar is seker regtig plekke wie se diens baie stadig is – maar in dié gevalle? Nee, ek dink nie so nie.
Kom ons wees net meer soos kinders met mekaar. Wys ons gee om. Net nou die dag, gedurende die Covid-19-pandemie het ons ’n ander deuntjie gesing. Nou maak ons weer so? Dit kos niks om “kind” te wees nie.
En ook, moenie vir my toeter blaas as die verkeerslig ’n sekonde gelede groen geslaan het nie; ek sal aspris wees, en net daar staan.
So, liewe leser, ek sê weer, dit kos niks om bietjie kind (en geduldig) te wees nie. – [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie