Thusie Gamibes
Thusie Gamibes

’n Belangrike deel van ons kultuur en identiteit

Thusie Gamibes

’n Rok se geskiedenis in Namibië dateer meer as 200 jaar terug toe die Britse en Engelse sendelinge die Victoriaanse rokke aan die Namibiese vroue, wat toe rokke van velle gedra het, bekend gestel het.

Die Namibiese vroue het die styl daarvan verander om by die land se warm klimaat aan te pas. Om die rok met sogenoemde HOROKHOES aan te trek, laat voel jou soos ’n dame of sê maar soos die Queen. 

Ek weet net nie van die vroue wat nog nie die rok aangetrek het nie, maar ons wat die rok by elke geleentheid dra, kry daai gevoel. Ons vroue se rokke is lank en kleurvol en word gewoonlik van materiaal met verskeie patrone en helder kleure gemaak.

Die rokke het dikwels wye moue en baie lae frille wat dit elegant laat lyk. ’n Belangrike deel van die rok is die kopdoek wat saam met die rok gedra word.

Die kopdoek kan verskillende vorms hê en wys soms die vrou se ouderdom of status in die gemeenskap. Sommige vroue dra net ’n gewone kopdoek sonder horings en dit pas nie by die lang rok nie.

Hierdie styl van kleredrag is deur Europese sendelinge in die 19de eeu beïnvloed, maar die Damara/Nama-mense het dit so aangepas om hul eie kultuur en identiteit te wys. Vandag word die tradisionele rokke steeds by spesiale geleenthede soos troues, feeste en kulturele vieringe gedra. 

Soos ek vir elke geleentheid ’n HOROKHOES in my kas het, sê net en ek is daar met my unieke rok en dit laat my goed voel as iemand omdraai en vir my sê ek lyk pragtig. Dit wys vroue hou daarvan om hulself te versier, met hakskoene en veldskoene wat daarby pas en moenie die krale vergeet nie. 

Die Damara/Nama-rokke is nie net ’n kledingstuk nie, dis ’n belangrike deel van ons kultuur en identiteit. Dit wys ons geskiedenis, tradisies en trots as ’n volk.

Deur hierdie rok te dra, hou ons ons erfenis lewend en gee dit aan die volgende geslagte oor. Daarom moet ons die Damara/Nama-rokke respekteer en bewaar sodat dit altyd ’n simbool van ons kultuur kan bly.

Ons manne is nie uitgesluit nie, as julle langs ons vroue staan met julle se hemde wat eenkant met springbokveld is en met die hoed op die kop. Ons is #nisa Damara. 

Dis die mooiste klere.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer