My twee ertjies
Daar is min dinge wat ’n mens se hele bestaan so onherroeplik in ’n oogwink verander soos die oomblik wanneer die stilte van ’n sonarkamer deur twee afsonderlike hartkloppe verbreek word.
Ek onthou hoe ek my asem opgehou het, vasgevang in die afwagting van die onbekende.
Toe kom die woorde: “Daar is nie net een nie. . . daar is twee” – twee klein ertjies wat styf teen mekaar lê. In daardie oomblik het ek nie net ’n ouer geword nie, ek het die bewaarder van ’n dubbele wonderwerk geword – julle.
Ek was bang, maar dit was niks in vergelyking met die oorweldigende besef dat ek die res van my lewe in duplikaat sou leef nie. Elke emosie, elke mylpaal en elke uitdaging sou voortaan twee gesiggies en twee stemme hê. Ons huis was nooit weer stil nie, maar te midde van die chaos was daar die magie wat ek as julle tweelingouer ervaar het. Ek sou soms by julle kotjies staan en kyk hoe julle na mekaar uitreik, selfs in julle slaap. Daardie geheime “tweeling-taal”, die babbels en laggies wat net julle verstaan het.
Soos julle gegroei het, het ek besef dat elke nuwe fase sy eie unieke stel uitdagings gebring het. Om een kleuter deur die “terrible twos” te kry, is ’n taak op sy eie, maar om julle twee gelyktydig in verskillende rigtings te sien hardloop, het my uithouvermoë dikwels tot die uiterste beproef.
Elke oorgang – van julle eerste skooldag met daardie te groot rugsakke tot julle stormagtige tienerjare – was ’n nuwe hoofstuk in hierdie avontuur wat my perke getoets het. Tog het julle my elke keer verstom met julle sprankelende lewenslus.
Met die verloop van die jare het ek met verwondering toegekyk hoe julle, my twee ertjies, in die mees liefdevolle jongmanne verander het. Julle het my grootste bron van trots geword, nie net oor julle prestasies nie, maar oor die diepte en suiwerheid van julle harte.
“Ons is lief vir mamma”, is woorde wat elke oomblik se moegheid van die jare weggevee het, en my herinner het aan die enorme genade wat in my skoot geval het – die genade van julle.
Nou staan ek hier, 18 jaar later, en ek moet my oë uitvee om seker te maak ek droom nie. Die tyd het die klein seuntjies met die vuil gesiggies gesteel en in julle plek twee pragtige jongmanne gelos.
Julle hoë kinderstemmetjies is nou diep baritons wat oor die toekoms gesels. Waar ek julle vroeër kon optel, moet ek nou op my tone staan om teen julle breë skouers te leun. Ek kyk na julle en ek sien 18 jaar se dubbele genade.
Dit was die wonderlikste avontuur van my lewe om julle ma te wees, van daardie eerste sonar tot by hierdie merkwaardige oombllik. Wat ’n ongelooflike voorreg was dit nie om die wêreld in duplikaat saam met julle te beleef nie, deur julle oë en met julle harte.
Ek is nie net ryker as gevolg van julle nie, ek is dubbel geseënd. Onthou, al is julle nou groot manne wat julle eie plekke in die wêreld gaan volstaan, sal julle altyd my twee blonde krulkoppies wees wat my geleer het wat onvoorwaardelike liefde werklik is.
My liefde vir julle is ewig, my trots eindeloos. Gaan skryf nou julle eie hoofstukke, my seuns, maar weet dat julle altyd die mooiste storie in my lewe sal bly… my twee ertjies.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie