My naam bly my naam
Errol Hurter – Dit was soos ’n fris bries deur die lewe om weer vir ’n keer die woorde Suidwes en Suidwester in ’n koerant te lees.
Doc Immerman, vriend en oudkollega, het die waagmoed aan die dag gelê in sy weeklikse rubriek “Naweek-afsaal” wat in die uitgawe van Tempo van die 9de van dié maand, verskyn het.
Sy storie het onmiddellik lekkerder gelees hoewel hy te velde getrek het teen misdaad en al die ander gemors waarmee mens nou op ’n daaglikse grondslag te kampe het.
Die situasie soos hy dit geskets het, was deur die gebruik van die woord Suidwester, as’t ware nader tuis gebring en het die gevoel laat posvat, by my altans, dat ’n mens vir die eerste keer ervaar dat met jóu, die mens wat ses jaar gelede nog as Suidwester bekend gestaan het, gepraat is. Dit het by my ’n gevoel van samehorigheid met die ander Suidwesters wakker gemaak, daardie Suidwesters wat ook reeds onder die hande van diewe, inbrekers, leeglêers en niksnutte deurgeloop het.
Shakespeare het in een van sy geskrifte gepraat van “what’s in a name” ofte wel “a rose by any other name smells just as sweet”.
Ek is bevrees dat die “bard” ’n paar honderd jaar te vroeg gepraat het, want ’n Suidwester “by any other name” is nie dieselfde mens soos dié mense wat nou na ’n woestyn vernoem is nie.
Die rede vir die vernoeming is omdat daar ander mense was wat weer nie van die naam Suidwes gehou het nie, dus ’n bewys dat die heer Shakespeare se grootste stelling nie water hou nie.
Dit wil daarom voorkom asof die reuk van die Suidwes-roos baie mense nie aangestaan het nie, net soos die reuk van die Namibië-roos ’n ander seksie van die bevolking nie aanstaan nie.
Waarom ons na ’n woestyn vernoem is, weet nugter alleen. Dink vir ’n oomblik aan die voormalige Wes-Duitsland met sy Swartwoud, op Duits, Schwartzwald.
Hoe sou dit geklink het as die Duitsers hul land na Schwarzwaldia verdoop het. Wat van Egipte met sy millennia-oue piramides en ’n naam soos Piramidia of selfs Saharadia.
Dis mos belaglik om die minste te sê en dit word seer sekerlik nie eens oorweeg nie. Suid-Afrika bly Suid-Afrika en is gode sy dank nog nie verdoop na Voortrekkermonumentia of (en die hemel behoed hulle) Tassenbergeria nie. As Suid-Afrika dan verdoop moet word, sal ’n naam soos Criminalia (op Engels) of Kriminelië (op Afrikaans) besonder van pas wees. Op die keper beskou, is dit eintlik ’n naam wat, myns insiens, die land van ons soos ’n handskoen pas.
Al wat die bogenoemde illustreer, is dat ’n mens jou perke heeltemal kan oorskry as dit by naamgee kom. Maar buiten dit, illustreer dit ook dat “a rose by any other name” nottendêm net so lekker ruik. Daarvoor is te veel voorbeelde in die wêreld van nuwe name vir ou lande en nuwe name vir ou strate.
Voordat ek nou die “bard” heeltemal verguis vir sy onsinnige en vlak opmerking, sal dit waardeer word indien ’n akademikus wat Shakespeare doseer, die betekenis van die “rose”-stelling kan verklaar.
Dankie in elk geval vir die “Suidwes”-woord, Doc. – 17 Junie 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie