Leandrea Mouers
Leandrea Mouers

My Kersboom is al op!

Liewe leser, dalk was jy ook soos ek wat my wenkbroue baie hoog opgelig het toe ek sien Shoprite en Checkers het al in Oktober hulle Kersversierings opgesit.

Maar nou dink ek, miskien het hulle die regte idee beet.

Maandagaand, na ’n vorige week (en naweek) se lang werksure, het ek besluit ek maak nou skoon.

Die banke word rondgeskuif, saam met die TV-kas, afgestof – dit ruik net na Jik, Handy Andy en Mr Min. Daai tyd weet my man, en die kinders ook – niemand praat nou met Ma nie, want dis nie net skoonmaak nie, dis sommer ’n “destressing”-sessie ook.

Toe besluit ek daar en dan: die lug lyk en ruik klaar soos somer. Almal is besig om dinge in plek te kry voor die jaar om is – hoekom kan ek nie my Kersboom opsit nie?

Wie het besluit dat ek eers tot Desember moet wag voordat ek my Kersboom kan opsit? “Low-key” wou ek dit al in Julie opsit, maar dit sal ek nou nie hardop sê nie.

Ná die hewige skoonmaaksessie – met baba teen my vasgemaak – sit ons toe die boom op, versier die TV-kas met goud, groen en rooi versierings en sit ook die liggies aan. Julle sal my nie glo nie – maar toe ek so na my handewerk kyk, voel dit vir my asof daar ’n onmiddellike verandering in die atmosfeer was; dinge het skielik nie meer so somber gevoel nie.

Dit vat my ook terug na my kinderdae waar ek, my sussie en my ma altyd saam die Kersboom opgesit het. Daar was altyd ’n vrolike atmosfeer en die hoogtepunt was natuurlik wie die sterretjie bo-aan die boom mag sit. Dan sou familie van ver af kom, en dit was altyd ’n heerlik gekuier.

Deesdae lyk Kersfees ’n bietjie anders. Familielede wat die “gom” was, is nie meer hier nie. Of as familie bymekaarkom, is dit ’n baklei en gestry.

Vir my – werkgewys – is dit altyd die besigste tyd van die jaar hier by die kus. Ons maak dan seker almal weet hoe lekker dit hier by die see is.

Op Kersdag gaan ons, soos tradisie, die vorige aand kerk toe. Gedurende die dag bak en brou ons en ons geniet die dag saam om die tafel of om die braaivleisvure.

Natuurlik kom Kersvader net ná middernag ’n draai maak – tot groot genot van die kinders – en daardie gesiggies maak alles die moeite werd.

So, liewe leser, my plan vanaf 6 November is om sommer elke dag Kersfees te vier. Die weer is fantasties hier aan die kus, ek en my familie is gesond, ons het ’n dak oor ons koppe – daar is soveel om voor dankbaar te wees.

Hoekom nie elke dag met dankbaarheid leef nie? Natuurlik maak die Kersliggies en -versierings die dae net daardie klein bietjie ligter.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer