My gedagtes word teruggevoer

So daar sit ek nou. Nie omdat ek niks het om te doen nie, glo my, my doenlysie is so chaoties soos Checkers se lang rye by die kasregister tydens maandeinde-“specials".

Maar nee, my brein besluit dis die regte tyd om sy eie markdag te hou. En ek, die eienaar van hierdie kop, het nie eens ’n kraampie gehuur nie, ek is net ’n passasier. Toe bars ek uit van die lag. Sommer so, hardop, tussen mense. Hulle kyk my aan asof ek probeer om my eie Netflix “comedy special” in die openbaar uit te toets. Ek dink toe: “Ag, miskien moet ek net vir hulle verduidelik hoekom ek lag.” Maar toe dink ek dis beter om die kyke te vat as om ’n hele “stand-up show” te begin.

En net daar het my gedagtes my teruggevoer na graad 9, toe ons soos ’n klomp geheime agente vir die skoolhoof weggekruip het.

Net daar onder die groot boom, die boom wat ek later sou ontdek is nie net ’n boom nie, maar ’n “tydmasjien”. Want glo my, daardie boom vat jou reguit plaas toe, al het jou ouers nooit ’n plaas besit nie. Jy sit, jy droom, en skielik sien jy beeste, skape, en ’n papegaai wat vir almal aankondig: “Sy’s weer hier, sy’s weer hier!” Ja, die boom het ’n stem van sy eie.

Maar goed, laat ek jou vertel die twee karakters op daardie plaas van my verbeelding is my ma en my oom. My ma? Sy is die tipe wat sê: “Jy moet ophou drink.” En my oom? Hy is die tipe wat glimlag en sê: “Ek drink en my suster raak dronk.”

En asof dit nie genoeg is nie, kom hy die volgende dag dronk by die huis aan en blameer die verf. Hy sê: “Die paint maak my dronk, so voor hy my vang, vang ek hom eerste!”

Ek meen, hoe kan jy kwaad vir so iemand bly? My ma se gesig was ’n mengsel van “ek gee moed op” en “ek wil lag maar ek moet ernstig lyk”.

En dan, wanneer jy dink dis klaar, sit die man eendag langs my en gee my raad oor huwelike en strykwerk. Hy sê: “My dogter, maak seker jy stryk jou man se broek ekstra plat, so plat soos jou oom altyd dronk is.” Ek het net gedink: “Nee wat, as ek ooit so ’n broek stryk, dan skryf ek sommer ‘Oom se raad’ daarop.”

So ja, dis ek, verdwaald in my kop se markplein, lag te hard, onthou bome wat my plaas toe vat, en familie wat my leer dat selfs verf ’n verskoning kan wees om te drink.

Ek sê maar net, wat is die lewe sonder om ’n bietjie te lag, ’n tikkie sarkasme en ’n oom wat glo “paint” is sterker as hy?

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer