Aurelia Afrikaner
Aurelia Afrikaner

My en my ma se koerantgesprekke

Dis amper die einde van die jaar, net nog minder as drie maande oor, en ek sit hier en dink: Ai, hoe sê ek nou dankie sonder om soos ’n ou sentimentele plaat te klink? Maar kom ons probeer.

Ek moet by my ma begin. Ja, sy wat vir my studies betaal het en tot vandag toe seker is dat elke nuusberig, weerkaart en sportuitslag wat ek lees, eintlik haar “rentals” is. Gratis koerant? Vergeet dit.

As ek ’n koerant huis toe bring, is dit nie papier om vis in toe te draai nie, dis my mond se werk.

“Lees vir my, wat sê hulle daar? En moenie net opsom nie, ek wil die hele storie hê.”

Ek glo sy dink ek is ’n kombinasie van CNN, BBC en ’n plaaslike skinderblad.

Dis hoekom ek soggens die radio aansit. Want glo my, ná werk is ek gedaan. Maar dink jy dit keer haar? Nee wat, ek kom in, sy hoor my sleutel in die deur en daar kom dit: “Nou vertel, wat sê die wêreld?”

Ek kan doodmoeg wees, my oë half toe, maar sy is reg daar: “Ek moet darem sien daai geld vir die studies was nie net in die water gegooi nie.”

En as ek soms stil raak? Ai, dan gooi sy daai een lyn wat my keel dadelik toeknyp: “Eendag gaan dit stil wees as ek dood is.”

Ja-nee, niks laat die trane vinniger loop as ’n ma wat so half “casual” met die dood dreig nie. Dan sit ek daar en baklei met myself oor watter oog ek eerste die trane sal afvee – links of regs. Uiteindelik gee ek moed op en laat die trane net rol. Ek troos myself: Miskien kan Okahandja se waterprobleme met my trane opgelos word.

Maar weet jy wat? Dis juis in daardie oomblikke wat ek ook lag. Want tussen die drama, die skuldgevoelens en om die nuus te lees, is daar liefde. Tonne liefde. Dis my ma wat nooit stil is nie, wat my soos ’n valk dophou en seker maak ek vergeet nie waar ek vandaan kom nie.

Want ons raak gou groot en begin dink ons skuld niemand iets nie. Tot jy besef: Die kos op jou tafel, die skoolfonds, die “klein bietjie” wat elke maand aangegee is, was eintlik jou springplank.

En as jy dit vergeet, sal iemand (soos my ma) jou vinnig herinner met daardie tipiese Afrikaanse ma-logika: “As ek geld in jou studies kon druk, kan jy darem woorde in my ore druk.”

Waardeer jou ouers. Hulle pla jou dalk, hulle hou jou wakker en hulle vra vrae op die onmoontlikste tye. Maar as dit eendag stil is, dan gaan jy wens jy kan weer die koerant lees vir iemand wat net jou stem wil hoor. En as jy my môre op die radio hoor, weet net êrens sit my ma en luister en dink: “Daai stem? Ja, dis my geld wat praat” of sommer “Die voorbladnuus was die moeite werd”.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer