Wiesie Kotzu00E9
Wiesie Kotzu00E9

My eksperiment met minimalisme

Sê maar net
Wiesie Kotzé

Minimalisme is ’n tendens wat redelik op sosiale media bemark word. As ’n mens selfs die geringste belangstelling daarin toon – al is dit per ongeluk – sal die algoritmes allerhande eendersdenkende mense met allerhande idees oor minimalisme vir jou naderhark. 

Vir diegene wat nie met die konsep vertroud is nie: Minimalisme is die praktyk om met minder te leef. Ek is oortuig daarvan dat dit, soos dwarsdeur die geskiedenis waargeneem kan word, die “teenbeweging” tot verbruikerswese is.

In my opinie het verbruikerswese in die laaste 20 tot 30 jaar in suidelike Afrika ’n tendens geword toe allerhande kommersiële kettingwinkels oopgemaak het wat alledaagse goedere teen baie billike pryse verkoop het. Dit het dit vir almal moontlik gemaak om verskeie weergawes van dieselfde item te besit. 

My pad met minimalisme het in 2023 vir my waarde gedra toe ek op allerhande fronte tydens my swangerskap met ons dogter Mari, minder gemaak het in my lewe.

Onbewus van die pad wat voor ons gelê het, voel ek dat die Heilige Gees my gelei het om in daardie tyd baie dinge te vereenvoudig en af te skaal. Ek was in daardie tydperk baie minder sosiaal (wat vir hierdie introvert ’n fees was).

Ek het my hare kort gesny vir laer instandhouding. En my fokus, aandag en teenwoordigheid was by die groeiende baba binne-in my. 

Sedertdien was ek weer swanger en ek kan met eerlikheid sê ek was aansienlik besiger en onthou gevolglik baie minder van daardie tydperk. Maar ek onthou my swangerskap met Mari. 

Vir diegene wat nie die storie ken nie; Mari was net vir vier maande lank aan ons geleen voordat sy aan wiegiedood oorlede is. Maar te danke aan die minimalistiese gier het ek vier maande plus nege maande se swangerskap saam met haar gehad.

Die konsep van minimalisme het ons as gesin ook verder gedra in ons tyd van rou en genesing ná haar dood. 

Ons berader het aanbeveel dat ons die tyd neem om te rou – om tyd, kapasiteit en energie aan die rouproses te wy – andersins bestaan die moontlikheid dat ons die verlies selfs jare ná hierdie gebeurtenis in ons lewens, nog steeds nie verwerk het nie omdat ons te besig was met ander dinge. En effektief besig was om die proses te vermy. Ons het in daardie tyd ons tyd saam as gesin met jaloesie beskerm en nie baie sosiaal verkeer nie. 

Ons het baie geslaap en gerus en met mekaar gepraat as ons iets oor Mari onthou het, of as ons hartseer was oor haar. Dit het vir omtrent ’n jaar so aangegaan. Waarna dit ook vir ons oukei gevoel het om met ons lewens aan te gaan.

Ek besef nou ek het al amper genoeg materiaal vir ’n boek oor hierdie tema; so vir vandag sal ek dit liewer kort hou. Ons moet versigtig wees om nie toe te laat dat die wêreld se stemme op sosiale media harder skree as dié van ons Skepper nie. 

Ek glo wel dat wanneer ons voel dat ons in ’n rigting gelei word en as ons lewens verbeter as gevolg van die koers wat ingeslaan is, dit wel aan die Gees se leiding toegeskryf kan word eerder as aan algoritmes. 

Want net God weet waarheen ons lewens op pad is en net Hy kan ons voorberei op dit wat kom. Ongelukkig beskik sosiale media en algoritmes nie oor daardie vermoë nie. 

Mag die wil van die Here vir elkeen wat hierdie lees duideliker wees as die geraas van die alledaagse lewe en die tendense op sosiale media.

Mag julle, soos ons, ’n stuk gereedskap vind uit al die inligting waarmee ons daagliks gebombardeer word, wat julle geloofspad vorentoe help en versterk in plaas van verswak en ondermyn. Mag die Here julle weë seën. Met liefde, van Wiesie

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer