Muisneste iewers ná 40
“Vir die eerste keer in my lewe is ek in ’n posisie om stock te vat van waar ek vandaan kom, wat het my teruggestoot en wat het my vorentoe gedruk. . . en eerlik met myself te wes. . . en net reg vir ’n verhouding,” sê hy terwyl ons die sokker kyk.
Ai, ek waardeer sy optimisme, maar kan die gesprek nie wag tot ná die wedstryd nie? vererg ek my, terwyl ek ’n stukkie biltong met alle aggressie en beide hande tackle.
“En ek het ook ’n klomp lewenslesse en 21 jaar van nugterskap agter die rug,” vat hy ons gesprek verder, met ’n onpeilbare desperaatheid en wagtend vir my deelname.
“Die nugterskap is ’n besonderse prestasie, veral in die hartjie van die platteland, maar wat as sy hom dryf na drank, dwelms of nog erger. . . sinnelose geweld?” vra die prokureur in my sonder om ’n woord te uiter.
“Wat jy op hierdie stadium van jou lewe nodig het, is ’n vrou om mee ’n ernstige gesprek te voer oor haar waardes en joune. . . soos Malcolm X kortliks vir sy aanstaande gevra het: ‘What do you put your mind to’,” skop ek af met ’n bondige beradingsessie wat hopelik voor die eerste helfte aan ’n einde gaan kom
Hy reageer egter met ’n rebelse tienerhart en iets wat ruik na vars hormone toe hy my vra wat ek bedoel met “hierdie stadium” .
“Jy is 53 en het beslis nie meer die energie om iemand se weekend special te wees nie en sy stel nie meer belang in jou dating skills nie, veral as daar kinders uit ’n vorige huwelik is,” bring ek hom gou op datum.
“Sjoe maar jy’s darem effens koelbloedig vandag of weet jy dalk van iets wat ek nie weet nie?” knip hy vir my oog.
“Die punt is sy het nie juis tyd vir daai tipiese Whitney Houston I have nothing drama nie, want deesdae het sy alles wat sy nodig het en grenslose toegang tot meer,” wei ek langsaam uit met ’n paar soberende waarhede.
“Jy verdien rus, maar vind eers uit wie jy is voor jy jouself weer heelhartig aan ’n nooi oorhandig – leer kook, stryk, wasgoed was en om skoon te maak waar jy jouself ook al bevind – praktiese goed,” laat val ek nog ’n stukkie goud.
“En as jy sien sy’s ’n bietjie kort van intellek, maar hardwerkend. . . praat minder en rol jou moue op vir enige taak wat voorlê,” deel ek nog ’n bietjie wysheid wat selde toepassing in my eie lewe vind.
“En ek moet seker na myself ook kyk en ’n ander rigting inslaan as ek ’n rooi lig gewaar?” vra hy met ’n sekere weerloosheid.
“Definitief, jy kan nie uit ’n leë beker skink nie, dit geld ook vir die kwynende kommunikasie in ’n verhouding en nie slegs ’n Joyce Meyer-preek oor barmhartigheid nie.”
“En wat stel jy voor moet op daardie berugte eerste afspraak gebeur,” vat hy ons gesprek dralerig na nuwe hoogtes waar ek nie graag wil kuier nie.
Die sokkerwedstryd is nou al in sy tweede helfte.
“Doen ’n bietjie navorsing oor haar grille en giere,” deel ek nog ’n handige brokkie inligting.
“En wat moet ek aantrek?” vra hy met ’n opgewondenheid wat ek lanklaas gesien of gehoor het.
“Silent but not stylishly violent… net casual – niks te uitspattig nie – ’n navy blou langmouhemp met kakie Chinos – sagte kleure,” gee ek ’n paar fashion tips uit my studentedae.
“Soos iemand wat verlief is?” spring hy blitsig op. “Nee, soos iemand wat ’n enorme wynplaas besit daar buite Stellenbosch – skatryk, maar kalm!”
“O, ja en net gou ’n rooi liggie of eerder ’n oranje liggie, wat nie maklik bespeurbaar is nie – die twee selfone-verskynsel!” wil ek ’n bietjie skinder met my persoonlike en professionele ervaring voor die kos bedien word.
“Twee selfone?” vra hy fronsend.
“Ja, baie talentvolle en vindingryke dierbares skaf nie ’n ekstra foon aan vir gerieflikheidsonthalwe nie, maar in baie gevalle om ’n onheilsame heulery weg te steek en verskeie kommunikasiekanale te handhaaf.”
“Soos die huidige blesser’s kultuur,” knik hy sy kop terwyl ’n glimlag stadig gestalte vind op ’n blosende gesig.
“Office politics, het sadly bitter min met ’n fisiese taak of plig te doen, maar buite-egtelike verhoudings wat tot stand gebring is en gedryf word deur die kommunikasiekanale van twee selfone,” verskaf ek kortliks die gronde vir my bedanking by twee werkgewers.
“So twee selfone moet dalk in die werksplek verbied word,” probeer hy om ’n deeglike en doeltreffende beleid te vorm, terwyl die klanke van Tina Turner se “We don’t need another hero” koersloos in my gedagtes weergalm.
“Het jy geweet dat daar meer mans as vroue in Namibië woon,” gooi hy trots die resultate van blitse Google-navorsing op die staaltafel.
“Yup en weens die gebrek aan manne of hubare vroue en ’n seldsame begrip vir ’n taai lewe, het verskeie platoniese vriendskappe in ietsie meer vrugbaar ontaard,” verduidelik ek aan hom hoe ’n oranje lig nie skielik nie, maar geleidelik, in ’n rooi lig kan verander.
“En dit is juis hier waar jou nuutgevonde eerlikheid en volwassenheid ’n baie groot rol moet speel,” deel ek ’n laaste aanmaning met hom.
“In ons tyd was dit nie veel anders nie,” lag hy en belowe hand en mond om ook te bid vir die vrou wat aan hom toevertrou word!”
“Vader, ek soek nie liefde of warmte in ’n koue wêreld nie, maar wat van ’n bietjie verbeelding?”
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie